KERKLIKE KALENDER

KERKLIKE KALENDER. Die kerklike kalender, ook bekend as die kerklike of liturgiese jaar, bestaan uit ’n reeks liturgiese feeste en vierings wat oor ’n jaar strek en ook jaarliks herhaal word. (Kyk by: Liturgie en: Feeste.) Die ordening van die jaar in so ’n geslote jaarsiklus staan teenoor die burgerlike of sekulêre jaar en begin nie op 1 Januarie nie, maar op die eerste Sondag van Advent* (gewoonlik in Desember), en duur nie 365 dae nie, maar 52 of 53 volle weke. Die kerklike jaar het ontwikkel rondom twee fokuspunte: die weeklikse viering van die verlossing op ’n Sondag* en die jaarlikse viering van Paasfees* waaraan die ander feeste met verloop van tyd gekoppel is. Die Sondag speel die primêre rol as die viering van die opstandingsdag van Christus* en bepaal ook die ritme van die kerkjaar. Die res van die kerkjaar draai om drie feeste, naamlik Kersfees*, Paasfees* en Pinksterfees*. Van almal is Paasfees die hoogtepunt, want dan herdenk en vier Christene* die opstanding* van Christus uit die graf. Daar is vir elkeen van die drie feeste ’n tyd van voorbereiding en ná die fees ’n tyd van besinning. Advent berei gelowiges voor vir Kersfees en in die tyd van epifanie* word nagedink oor die betekenis van Christus se koms na die aarde. Lydenstyd is voorbereiding vir Paasnaweek en Paastyd ’n tyd van nadenke oor die implikasies van die opstanding. Die tien dae tussen Hemelvaart en Pinkster berei gelowiges voor vir Pinksterfees en daarna volg Koninkrykstyd waarin Chris­tene die opdrag het om die gawes van al drie die feeste te gaan uitleef in die wêreld.

 

Sidebar