KERKPLANTING

KERKPLANTING. Gisbertus Voetius* (1588–1676), gereformeerde* teoloog, het die term “kerkplanting” reeds in die 17de eeu gebruik. Hy het gesê dat sending* ’n drievoudige doel het: die bekering* van hei­dene* as die voor die hand liggende doel, die planting van die kerk* as ’n ver­der­liggende doel, en die eer en verheerli­king van God as die hoogste en finale doel. Dit lê natuurlik in die aard van sending dat dit tot kerkstigting lei, want as mense tot geloof* kom, staan hulle nie alleen nie, maar word deur die werk van die Heilige Gees* ledemate van die liggaam van Chris­tus*, dit wil sê “die gemeenskap van die heiliges*”. In die 19de eeu is baie nagedink oor watter soort kerk as ideaal gestel moes word, en wat die verhouding tussen die sg “jongkerke” en die “moeder­kerke” sou wees. Die bekendste formule­ring was dié van Venn* en Anderson* wat ge­praat het van selfstandige kerke: selfregerend, selfonderhoudend en selfuitbreidend (Kyk by: Drie-selwe-beweging). In die 20ste eeu het kerkplanting as sendingdoel weer op ’n nuwe manier na vore gekom. Dit was veral as gevolg van Donald McGavran* se “Church Growth”-beweging. Hier is die klem gelê op die doel waarop sending gerig moet wees, naamlik ’n groeiende kerk.

Sidebar