KERKRAAD

KERKRAAD is die regerende liggaam van ’n plaaslike gemeente*, gewoonlik bestaande uit ouderlinge*, predikante* (lerende ouderlinge) en diakens*. Die Nu­we Testament* gee nie ’n enkele model vir die regering en leiding van die gemeente nie, en drie primêre maniere van kerkre­gering het algaande ontwikkel: presbite­riaans* (rege­ring deur ouderlinge); episko­paals* (rege­ring deur biskoppe*) en kongregasio­nalisties* (regering deur die gemeente self). Nuwe-Testamentiese ge­meentes is as ’n reël nie deur enkele persone gelei en regeer nie, maar deur ’n groep ou­derlinge. Daar was egter dikwels ook duidelike leiers in gemeentes wat saam met die ouderlinge leiding gegee het, bv Jakobus* in Jerusalem*, Titus* op Kreta* en Timoteus* in Efese*. Regering deur ouderlinge is gebaseer op die Joodse* praktyk waar die oudstes toesig gehou het oor die plaaslike geloofsgemeenskap. Belangrike funksies van die kerkraad is om as samebindende krag in die gemeente te funksioneer, en om leiding te neem in die geestelike versorging en toesig oor die gemeente. Tradisioneel bestaan kerkrade in Suid-Afrika uit ouderlinge en diakens met ’n pastorale taak in die wyke van ’n gemeente. Onlangse ontwikkelings in groot gemeentes is dat baie kerkrade desentraliseer in predikantswyke of ver­klein na ’n groep leiers van die ge­meente.

 

Sidebar