KERKRAADSVERGADERING

KERKRAADSVERGADERING is ’n wet­tig gekonstitueerde byeenkoms van ’n kerkraad* waartydens besluite geneem word wat die plaaslike gemeente* raak. Alhoe­wel die Nuwe Testament* nêrens die opdrag gee dat die gemeente gelei en regeer moet word deur ’n vergadering van ouderlinge* en diakens*1 nie, kom die saak van besluitnemende vergaderings voor in Hand 11:30; 13:1-2; 15:6 en 21:18. Volgens die Nuwe-Testamentiese gegewens het vroeë kerkvergaderings die vasstelling van beleid, toesig oor leersuiwerheid en die morele lewe van die gemeente hanteer. Binne die gereformeerde* verstaan van die kerkraad hoort die take van regering, opsig en tug* oor die gemeente as primêre take op die agenda van ’n kerkraad. Die kerkraad hanteer kerklike sake op ’n kerklike wyse, en moet daarop let om hom nie te begeef op die terrein van ander instansies nie. Om wettige besluite te neem, moet die kerk­raads­vergadering wettig gekonstitueer wees, daar moet ’n kworum (die helfte plus een van sy lede) teenwoordig wees en besluite moet (ná beredenering) deur ’n meerderheid van die teenwoordige lede ondersteun word. Hierdie besluite moet genotuleer word en tot beskikking van al die lede van die vergadering wees. Kerk­raadsvergaderings is nie noodwendig oop vir gemeentelede nie, en wanneer tugsake hanteer word, moet die vergadering gesuiwer word (daar mag bv nie mense wat ’n familieverbintenis met die aangeklaagde het, teenwoordig wees nie), en in camera gaan (dit moet dus geslote wees).

Sidebar