KERKVADERS

KERKVADERS is teoloë wat in die tydperk tussen die Nuwe Testament* en die Middeleeue geskryf het, dus min of meer tussen die 2de en die 7de eeu nC. Hierdie tydperk staan ook as die patristiese tydperk bekend, na aanleiding van die woord patres wat die Latyn is vir “vaders”. Daar is ’n paar vereistes waaraan ’n persoon uit hierdie tydperk moet voldoen om as kerkvader erken te word. Die belangrikste is dat sy leer ortodoks* moes wees, en dat sy lewe heilig* moes wees en in ooreenstemming met sy leer.

Die patristiese tydperk, dit is die tydperk van die kerkvaders, word in drie dele verdeel:

  1. Die Ante-(vóór-)Niseense Vaders. Dit is die vaders wat geskryf het vanaf die 2de eeu tot vóór die Sinode van Nisea* in 325 nC. Dit sluit drie groepe skrywers in: 1.1 die Apostoliese Vaders* (soos Polikarpos*, Hermas, Klemens van Rome, Ignatius*); 1.2 die Griekse* apologete wat die Christen­dom* teen die Jode* en die heidene* verdedig het (soos Justinus* die Martelaar), asook teen die ketters (Kyk by: Kettery) van die tyd (soos Irenaeus*); en 1.3 die vroeë teoloë wat die Christelike leer sistematies uiteengesit het (soos Klemens* van Aleksandrië, Origenes* en Tertullianus*).
  2. Die bloeitydperk van die patristiek. Nadat die Christendom* met die Edik van Milaan* in 313 nC gewettig is, het Chris­telike geskrifte vir die volgende 130 jaar geblom. Tussen 325 en 451 het daar vier ekumeniese* sinodes plaasgevind (Nisea, Konstantinopel, Efese en Chalcedon) waar daar oor teologiese sake gedebatteer is. Belangrike skrywers uit hierdie tyd is Atanasius*, die drie Kappadosiese vaders (Basilius* van Sesarea, Gregorius* van Na­zianze en Gregorius* van Nyssa), Eusebius* van Sesarea, Johannes Chrisostomus* en Ambrosius* van Milaan. Die bekendste vaders uit hierdie tyd is Hieronimus* en Augustinus*.
  3. Patristiese agteruitgang. Ná die Sinode van Chalcedon in 451 nC het die teologie* begin “agteruitgaan”, het die Aristoteliaanse filosofie die teologie oorgeneem, en sou dit vir die duur van die Middeleeue beheer. Be­langrike vaders uit hierdie tyd is Boethius, Gregorius die Grote, Pseudo-Dionisius* die Areopagiet, en Johannes Damascenus.

Alhoewel daar gedurende die patristiese tydperk soveel Christelike werke geskryf is dat dit vir een persoon na raming 33 jaar sal duur om dit deur te lees, is daar slegs vier geskrifte bekend wat deur vroue geskryf is: 1. Perpetua*, ’n vrou uit Afrika, skryf in 202 nC Die martelaarskap van Perpetua en Felicitas, waarin sy vertel van haar gevoelens en oortuigings voordat sy vir haar geloof* doodgemartel is. Die werk is ná haar marteldood deur iemand anders voltooi. 2. Proba, ’n onbekende vrou, vertel in 350 nC die hele Bybel* in versvorm oor. 3. Egeria, ’n non, het beroemd geword vir haar verhaal oor ’n reis wat sy onderneem het vanaf Egipte* deur Palestina* tot in Konstantinopel*, ’n reisverhaal wat uit die 5de eeu nC kom. 4. Eudokia, ’n edelvrou, skryf teen ongeveer 400nC ’n verhaal oor Die martelaarskap van Siprianus, ’n vroeë kerkvader wat in die noorde van Afrika vir sy geloof ’n marteldood gesterf het.

 

 

Sidebar