KERKVERBAND

KERKVERBAND. Die eenheid van die kerk* kan met die verloop van tyd verskillende vorms aanneem, soos erkenning van mekaar en samewerking met mekaar. Kerk­verband is ’n hegte en kerkregtelik (Kyk by: Kerkreg) bin­dende vorm van kerkeenheid. Wanneer daar ’n kerkverband ontstaan, is dit ’n eenheidsband tussen kerke (plaaslike gemeen­tes*) wat tot stand kom deurdat besluit word om in verskeie vorms van verband met mekaar te tree. In die geval van die Neder­duitse Gereformeerde Kerk* is dit ringsverbande, sinodale verbande en ’n algemene sinodale verband. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika* praat van klassisse, partikuliere sinodes en nasionale sinode. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika* praat van ’n algemene kerkvergadering. Die verskillende vorms van verband kom tot stand op die prinsipiële veronderstelling dat die onderskeie gemeentes saamstem oor Skrif*, belydenis* en kerkorde* en hulle­self ook gebonde ag aan mekaar deur hierdie drie.

Die naam van ’n kerkverband, asook die beginselstandpunte oor die Skrif, die belydenisskrifte van die verband, die ampte* en die vergaderings van die verband saam met hulle bevoegdhede en funksies, die opsig en tug* binne die kerkverband, die arbeid van die verband asook verskillende betrek­kings waarin die verband kan staan – soos onder meer ten opsigte van die staat* – word alles in die kerkorde* vasgelê. (Kyk ook: Ring en: Sinode.)

Sidebar