KEROULARIOS, MICHAEL

KEROULARIOS, MICHAEL (circa 1000–1059) ook bekend as Michael Cerula­rius of patriarg Michael I, was van 1043 tot 1059 patriarg van Konstantinopel.

Hy speel ’n sleutelrol in die groot skeuring wat die kerk in 1054 verdeel het in die Westelike Katolisisme* en Oostelike Ortodoksie*.

Keroularios was ’n trotse en koppige man en is aanvanklik vir die staatsdiens opgelei. Sy broer se selfdood laat hom van plan verander en hy wend hom tot die teologie*. Baie geskiedskrywers meen dat hy slegs sy politieke ambisies verruil het vir kerklike ambisies. Geen ander patriarg van Konstantinopel het soveel mag soos Kerou­larios gehad nie. Hy was swak onderrig in die teologie, gewelddadig, ontegemoetko­mend en wraaksugtig. Hy het egter by geleentheid groot persoonlike moed aan die dag gelê en het ’n groot pligsbesef ge­had. Sy opgang was vinnig en skaars drie jaar nadat hy monnik* geword het, word hy patriarg van Konstantinopel.

’n Twis tussen hom en gesante van die pous* in 1054 lei tot sy ekskommunikasie* waarna hy ’n sinode* byeenroep en toesien dat die gesante self geëkskommunikeer word.

Keiser Konstantyn IX, wat Keroularios as patriarg aangestel het, se opvolger, keiser Isaac I Commenus, was minder beïndruk met Keroularios en het hom in 1058 afgesit en na ballingskap gedryf.

Sidebar