KERSFEES

KERSFEES is ’n universele fees wat in verskillende lande verskillende kulturele vorms aanneem. Vir Christene* simboliseer dit die geboortedag van Jesus* Christus*, alhoewel ons nie weet presies op watter dag Hy gebore is nie. Christene het met hierdie fees ’n nuwe inhoud gegee aan die heidense “fees van die songod” (wat waarskynlik op 25 Desember plaasgevind het), en ’n mens tref vandag nog belangrike Christe­like inhoude in hierdie fees aan, selfs by mense wat nie in Christus glo nie. Op Kers­dag roep ons in herinnering dat die onuitspreeklike wonder waar geword het, naamlik dat God na die aarde in die vorm van ’n mens gekom het. Karl Barth* het gesê dat God met die geboorte van Jesus gebly het wat Hy was, God, en tog ook, tegelykertyd, geword het wat Hy nié is nie, naamlik mens. Hierdie wonder kan geen mens verstaan nie – jy kan dit net in die geloof* aanvaar, en God daarvoor dank. Daarom is Kersfees in die eerste plek ’n tyd vir aanbidding, waartydens ons ook met die gee van geskenke uitdrukking kan gee aan ons geloof* in die grootste Geskenk wat ons kón ontvang: God, in die liggaam van ’n baba. (Kyk ook: Kerklike kalender.)

Sidebar