KESTELL, JOHN DANIEL (VADER)

KESTELL, JOHN DANIEL (VADER) (1854–1941) was die seun van Charles Kestell, ’n 1820-Setlaar, en Dorothea Weyer, sy Voortrekkervrou. Ná sy teologiese studie op Stellenbosch, het Kestell in 1880 vir verdere studie na Utrecht vertrek. By sy terugkeer is hy in 1882 as predikant in die Kimberley-gemeente deur sy vriend, Abra­ham Kriel*, bevestig.

Kestell was ten nouste betrokke by die Anglo-Boereoorlog* – hy, pres MT Steyn* en genl Christiaan de Wet* het bekend ge­staan as die Vrystaatse Driemanskap: Gods­man, staatsman en krygsman. Hy was die skrywer van ’n hele paar boeke: De Voor­trekkers (1893), Boeren-kommando’s (1903) en sy biografieë oor sy skoonpa, prof NJ Hofmeyr* (1911), Christiaan de Wet (1920) en Abraham Kriel (1932). Dit was benewens twee boeke gebaseer op sy oordenkings: Die stille uur (1930) en Uitgevryfde koring­korrels (1941). Van Januarie 1919 tot Sep­tember 1920 was hy redakteur van De Kerkbode*. Met sy aanvoeling vir die kunste en argitektuur, ontwerp hy die Moe­derkerk in Kimberley en die NG kerkgebou op Ficksburg, en skep ’n sensitiewe mar­merbeeldjie van sy vroeg gestorwe dogter­tjie, Madelene.

Kestell tree op as voorsitter van die Federale Raad der Kerken (1911) en as mo­derator* van drie Vrystaatse sinodes – 1902, 1912 en 1916. Hy was ten nouste betrokke by die totstandkoming van die Helpme­kaar-beweging ná die Groot Griep van 1918, en die Reddingsdaadbond in 1938.

Ná sy kortstondige redakteurskap van De Kerkbode, het Kestell teen die einde van 1920 rektor van die Grey-universiteitskollege geword – die latere Universiteit van die Vrystaat. Met sy goeie kennis van die klassieke tale was hy vanaf September 1927 saam met prof JD du Toit* (Totius) as eind­redakteur voltyds by die Afrikaanse Bybel­vertaling* betrokke.

Kestell het talle toekennings vir sy lewenswerk ontvang. Dit het drie eredoktorsgrade ingesluit. Een van sy belangrikste bekronings was die feit dat hy in sy laaste lewensjare in die volksmond bekend ge­staan het as Vader Kestell. Die dorp Kestell is na hom vernoem. ’n Laaste eerbewys was dat hy ná sy dood in 1941 aan die voet van die Vrouemonument begrawe is.

 

Sidebar