KETTERY

KETTERY. Die konsep “ketter” of “kette­ry” word tradisioneel verbind met ’n ge­doopte (Kyk by: Doop) persoon se doelbewuste ontkenning van ’n geloofswaarheid. Die Nuwe-Testamentiese* briewe* is bewus van teenswoordige en toekomstige vals leerstellings (1 Tim 1:3-11; 4:1-5; 2 Tim 2:14-18). Kettery of dwaallering is deur die eeue óók deel van die kerk* se geskiedenis. Elke keer wanneer die waar­heid van die evangelie*, of die identiteit van die kerk*, bedreig is, is probeer om met dié foute en teenstrydighede in gedagte, die waarheid van die evangelie in daardie verband te formuleer, en is sekere bewe­gings en leerstellings afgewys. Teen 150 nC het Justinus die Martelaar die Syntagma-katalogus van dwalings opgestel. Vir Justinus was kettery meestal ’n vals leer oor God. Irenaeus* van Lyon is die skrywer van Adversus haereses (202 nC) wat hom teen die dwaling van die gnostiek*, wat die Christendom* in die 2de eeu bedreig het, gerig het. Die geveg teen die Arianisme* het bykans die hele 4de eeu geduur. In die 5de eeu het Augus­tinus* in sy stryd teen die Manicheïsme*, Pelagianisme* en Anabaptiste* selfs die burgerlike owerhede ingeroep om orde te herstel. In 385 nC is ’n sg “ketter” vir die eerste keer in Trier tereggestel. In die 16de eeu is die gereformeerdes* deur die Katolieke* van kettery beskuldig, terwyl die twee saam die Trinitariërs en Anabaptiste as ketters afgewys het. Servet* se dwaling in verband met die Drie-eenheid* is deur Johannes Calvyn* as so ernstig beskou dat hy toegelaat het dat hy daaroor tereggestel word.

 

Sidebar