KHOEKHOEN/KHOI-KHOI/KOI-KOI EN GODSDIENS

KHOEKHOEN/KHOI-KHOI/KOI-KOI EN GODSDIENS. Die oorspronklike godsdiens van die Khoekhoen (of Khoi-Khoi of Koi-Koi) is, saam met dié van die San*, die oudste vorm van godsdiens in Suid-Afrika. Die hoofkenmerke van die Khoekhoen-godsdiens was: 1. Die geloof in god as skepper, beskermer en gewer van alle goeie dinge. 2. Die oortuiging dat die bose die werk van god teenstaan. 3. Die ge­loof dat daar ’n hiernamaals is. Hulle naam vir god was Tsui //Goab, en /Gaunab is die bose. Verskeie mites is gebou rondom ’n ryk voorvader, Heitsi-Eibib, wat telkens uit die dood sou opgestaan het. Klippe ter herinnering aan sy dade is op talle grafte gepak wat tot vandag toe in Namakwaland te sien is. Die eerste Christelike sending­*werk is in 1737 deur die Morawiese* Herrn­hutter*, Georg Schmidt*, onder die Khoe­khoen begin. Sedert die vroeë 1800’s het die meerderheid van die Khoekhoen die Chris­telike geloof* aangeneem. Vanweë die aandrang van die sendelinge* dat die Khoe­khoen die Westerse kultuur* ook moes aanvaar, is twee Khoe-kerke gestig waarin hulle eie kultuur en die Christelike geloof byme­kaar gebring is, naamlik die Nama Qwa-kerk (1912) en die Griekwa Independente-kerk (1920). (Die benaming “Khoekhoen” kom van die taalnaam Khoekhoegowab. “Khoi-San” is die gesamentlike benaming van die oudste inwoners van die gebied wat tans Suid-Afrika uitmaak.) (Kyk ook: Tikkuie, Vehettge; en: San [Boesmans] en die Christelike geloof.)

Vir verdere lees: I Schapera en B Far­rington 1933. The Early Cape Hottentots. Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging. Alan Barnard 1992. Hunters and Herders of Southern Africa: A Comparative Ethno­graphy of the Khoisan Peoples. Cambridge: Cambridge University Press.

 

Sidebar