KIERKEGAARD, SØREN AABYE

KIERKEGAARD, SØREN AABYE (1813–1855) is in Kopenhagen gebore, die jongste van sewe kinders. Sy ma, susters en twee van sy broers is oorlede voordat hy 21 geword het. Kierkegaard se kinderjare was eensaam en ongelukkig, ook moeilik gemaak deur die oordrewe godsdienstigheid van sy pa. Aan die universiteit van Kopenhagen het hy teologie* studeer, maar ook die kunste en die wetenskap. Op universiteit het ’n reputasie verwerf as briljante student én sosiale joller. In dié tyd het hy al hoe meer krities geraak oor die Christelike geloof soos sy pa dit verstaan en uitgeleef het, en begin soek na ’n nuwe stel waardes. Aan die einde van sy lewe het Kierkegaard publieke verwerping beleef, veral as gevolg van sy langdurige stryd met die satiriese weekblad Corsair en sy herhaaldelike aanvalle op die Deense staatskerk. Min het sy dood in November 1855 betreur, maar aan die begin van die 20ste eeu, toe sy werke uit die oorspronklike Deens vertaal is (hy het net in Deens geskryf), het sy idees wye inslag gevind en moderne Protestantisme* sowel as die eksistensiefilosofie* (waarvan hy as die grondlegger beskou kan word), beïnvloed. Sy werk het ’n belangrike invloed uitgeoefen op denkers soos Heidegger*, Sartre*, Jaspers* en Marcel. Deesdae ontvang Kierkegaard steeds baie aandag – van filosowe en skrywers sowel “binne” as “buite” die sg postmodernisme*.

Volgens Kierkegaard het slegs die mens die synswyse van “eksistensie”. Teenoor die idealistiese sisteemdenke van Hegel*, be­klem­toon hy die unieke bestaanswyse van die mens as enkeling (eksistensie). Volgens hom is die besondere en nie-noodsaaklike bestaan van die enkeling ’n paradoksale sintese van tyd en ewigheid, van eindigheid en oneindigheid, en as sodanig onverrekenbaar in ’n sisteem van algemene en abstrakte, redelike begrippe. Hegel se sisteem kan geen voorsiening maak vir die eksisterende enkeling wat in sy/haar beslissings te kampe het met die konkrete óf-óf’s (teenoorgestelde moontlikhede) waar­mee die werklikheid ons konfronteer nie. Kierkegaard se eerste groot werk dra juis die titel Either/Or (1843). Hierin gebruik hy die gesigspunte van twee mense met radikaal verskillende oortuigings in sy soeke na ’n sinvolle bestaan. Either/Or word beskou as ’n meesterstuk van dualiteit, ’n ondersoek na die konflik tussen die estetiese en die etiese.

Kierkegaard sien angs as die mens se grondstemming of -gevoel, en hy analiseer die angs binne die kader van sy siening van die oorspronklike sonde*. Wat maak die sonde moontlik? – Wat die sonde (die uitval uit die staat van onskuld) moontlik maak, is die daaraan-vooraf­gaande toestand van angs.

Ander werke van Kierkegaard (wat hy meestal onder ’n skuilnaam geskryf het), is Repitition (1843), Fear and Trembling (1843), Philosophical Fragments (1844), The Concept of Anxiety (1844), Stages on Life’s Way (1845), Concluding Unscientific Postscript (1846) en The Sickness unto Death (1849).

Vir verdere lees: GA Schrader 1967. Existential Philosophers: Kierkegaard to Merleau-Ponty. New York: McGraw-Hill.

 

Sidebar