KIGOZI, BLASIO

KIGOZI, BLASIO (circa 1909–1936) is in Uganda gebore. In 1928 is hy as diaken*2 in die Anglikaanse Kerk* van Uganda georden en na Gahili in Oos-Rwanda gestuur. Soos ook elders in Afrika, was daar gedurende die vroeë 1930’s ’n geweldige droogte en hongersnood in dié dele wat duisende slagoffers geëis het. In hierdie tyd het Kigo­zi en sy oudste broer, Simeoni Nsimbambi, ’n charismatiese belewing van die Heilige Gees* gehad en by die Abaka-groep (“Mense van vuur”) aangesluit. Vir die volgende agt jaar het hulle onverpoosd van dorp tot dorp gepreek en gehelp dat die herlewing wat in 1927 in Gahini begin het, momentum kry. In 1935 het hy ’n Anglikaanse massaherlewingsbyeenkoms van 10 dae in Kabale gelei. Vroeg die volgende jaar is hy na die kerk se sinode* in Kampala opgeroep, maar onderweg het hy bosluiskoors opgedoen. By die sinode het hy ’n ernstige beroep op die ampsdraers gedoen om berou en herlewing. Voordat die sinode verdaag het, is Kigozi oorlede. Sy dood het gol­we van herlewing in Uganda meegebring.

Vir verdere lees: AC Stanley Smith 1946. Road to Revival: The Story of the Rwanda Mission.                                                        

Sidebar