KIMBANGU, SIMON

KIMBANGU, SIMON (1899–1951) was een van die eerste onafhanklike kerkleiers in Afrika. Hy is in Nkamba, in die huidige Demokratiese Republiek van die Kongo, gebore. Hy en sy vrou, Mivilu Marie, het as Baptiste* grootgeword en is in 1915 gedoop. Kimbangu het in 1918 visioene* begin kry waarin hy geroep is om ’n profeet en geneser te word. Hy het eers van hierdie roeping weggevlug na Kinshasa, maar in 1921 het hy teruggekeer na Nkamba en ’n groot herlewings- en genesingskerk begin. Die eerste was die wondergenesing van ’n jong vrou, Maman Kiatondo. Hy het ge­preek, siekes genees, volgens oorlewering ook dooies opgewek, en die plaaslike be­volking teen die Europese sendelinge* en kul­tuur* opgesweep. Die Belgiese owerheid het die Messianistiese beweging as ’n politieke gevaar gesien en Kimbangu ná ses maande gearresteer en ter dood veroordeel. Maar toe het Kimbangu reeds honderde duisende volgelinge gehad. Koning Albert I van België het die straf na lewenslank verander – en vir die volgende dertig jaar was Kimbangu ’n gevangene in ’n tronk in Elizabethville (tans Lubumbashi), 2 000 km van sy tuisdorp. Hy in die tronk oorlede.

Kimbangu se volgelinge is eweneens tussen 1921 en 1951 vervolg en 37 000 is uit die Kongo verban. Ten spyte van die teenstand het die beweging egter gegroei. In 1959 het die Kimbanguiste-kerk, onder die leiding van die jongste seun van Kimbangu, Joseph Diangienda Kuntina, amptelike erkenning van die regering verkry, met dieselfde regte as die Katolieke* en Prote­stantse* kerke in die land. Die “Kerk van Jesus Christus op aarde deur sy spesiale ge­sant Simon Kimbangu” is sedert 1970 ’n lid van die Wêreldraad van Kerke*.

Die Kimbanguiste-kerk se leer is orto­doks* en vertoon ’n mengsel van Baptiste- en tradisionele gebruike. Die kerk verwerp toordery* en verbied lede om te dans, te rook of te drink. Eredienste is baie stemmig. Tans is daar meer as drie miljoen lede.

Vir verdere lees: M-L Martin 1975. Kim­bangu: An African Prophet and his Church. Grand Rapids: Eerdmans. World Council of Churches 2006: A Handbook of Churches and Councils. Genève: WCC.

 

Sidebar