KIMPA VITA (DONNA BÉATRICE)

KIMPA VITA (DONNA BÉATRICE) (1684–1706), ’n Kongolese vrou wat by haar doop die naam Béatrice ontvang het, word as die eerste swart profetes beskou – die voorganger van talle swart profete en leiers wat in die 19de en 20ste eeu in Afrika na vore sou kom. In die destydse “Christelike koninkryk van die Kongo” het Donna Béatrice, wat van koninklike afkoms was, soos Franciskus van Assisi* al haar besittings prysgegee en begin om die naderende oordeel van God oor die land en sy mense aan te kondig. Sy het ’n striemende protes teen die Katolieke Kerk* én die optrede van die vreemde sendelinge* wat van Europa gekom het, laat hoor. Katolieke liedere soos die Ave Maria en Salve Regina en veral die priesters se bygelowige verering van die kruis, het haar dwars in die krop gesteek. Christus* is as swart Afrikaan in Sâo Salva­dor gebore en sy apostels was almal swartmense, het sy haar volgelinge geleer. Sy het ’n groep getroue apostels om haar vergader, wat deur die land gereis het om haar boodskap te verkondig. Haar eie kind, het sy beweer, het sy soos Maria* van die Heilige Gees* ontvang. Onder druk van Katolieke sendelinge het koning Pedro IV haar laat arresteer. Sy is as ketter* veroordeel en is met haar kind én die apostel wat as die pa van haar kind beskou is, op ’n brandstapel tereggestel. Soos Jeanne d’Arc* het sy met die Naam van Jesus* Christus op haar lippe gesterf.

Sidebar