KINDERARBEID

KINDERARBEID. Van die heel vroegste tye af is kinders deur volwassenes uitgebuit, misbruik, verwaarloos en eintlik as twee­derangse burgers beskou. Alhoewel die bewuswording van die waarde van kinders in die jongste tyd toegeneem het, bly hulle steeds een van die kwesbaarste komponente van die samelewing. Daarom word kin­ders wêreldwyd deur wetgewing be­skerm.

Artikel 43 van die Suid-Afrikaanse wet op basiese diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997, bepaal dat ’n kind onder die ouderdom van 15 jaar nie in diens geneem mag word nie. Ook mag ’n kind nie in diens geneem word waar die werk of omstandighede nie geskik vir ’n kind van daardie spesifieke ouderdom is nie. Geen kind mag in elk geval werk verrig wat sy/haar welstand, op­voeding, fisieke of geestesgesondheid en morele of sosiale ontwikkeling nadelig raak nie. Iemand wat ’n kind in stryd hiermee in diens neem, begaan ’n oortreding volgens die wet.

Teologies* word kinders gesien as ’n gawe van God en, wat hulle verhouding met God betref, ’n voorbeeld vir alle mense. Volgens Christelike beskouing word die grootmaak van kinders gesien as ’n morele aksie wat hulle karakter in ooreenstemming met die Christelike lewe wil vorm. Volwassenes moet verantwoordelikheid aanvaar vir kinders en hulle met dieselfde liefde en deernis bejeën as wat God vir hulle het.

Vir verdere lees: J Macquarrie en J Child­ress 1990. A New Dictionary of Christian Ethics. Londen: SCM. HJ van Niekerk 1998. Child Welfare Legislation and Practice. Durbanville: Van Gent Publishers.

 

Sidebar