KINDERDOOP

KINDERDOOP. Alhoewel daar nie in die Nuwe Testament* uitdruklik gesê word dat kinders reeds as suigelinge gedoop moet word nie, is die kinderdoop volgens ou manuskripte reeds sedert die vroegste tye in die kerk* beoefen. Daar is in die Nuwe Testament wel sprake van vier huisgesinne wat gedoop is (Hand 16:15, 33, 34; 18:8 en 1 Kor 1:16) waaruit met redelike sekerheid aanvaar kan word dat kinders ook daarby ingesluit is. Die kinderdoop berus egter veral op die leer van die genadeverbond*. In die Ou Testament* was een van die tekens van God se verbond* met sy volk die besnydenis*. Seuntjies van agt dae oud is besny as teken daarvan dat hulle (en by implikasie dogtertjies) by die verbond ingesluit is. Veral op grond van die verband wat Paulus* in Kol 2:11-12 tussen die besnydenis en die doop* lê, aanvaar die grootste deel van die Christelike kerke dat die doop in die nuwe bedeling die besnydenis as teken van die verbond vervang het. Omdat kinders van gelowige ouers deel het aan God se genadeverbond, is daar geen rede waarom hulle nie die doop as teken en seël mag ontvang nie. Wanneer hulle groter word en dit verstaan, sal hulle dan weet dat hulle die teken dra van wat God gedoen het vir almal wat deur geloof aan Hom verbind is.

Vir verdere lees: Adrio Konig 2005. Christelike doop én bekeringsdoop? Daar is meer oor die doop as wat jy dink. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar