KINDERSORG IN SUID-AFRIKA

KINDERSORG IN SUID-AFRIKA. Die Bybel* bevat oorvloedige getuienis oor die Here* se bewoënheid oor die kind. Die Bybelse versorging van die kind in nood, word voortgesit in die kerke, ook in Suid-Afrika. Aanvanklik was die sorg aan kinders in nood ongeorganiseerd. Die eerste kin­der­huis onder die gesamentlike toesig van die NG Kerk* en die Lutherse Kerk* is in 1814 in Kaapstad geopen. ’n Aantal rampsituasies het die versorging van hawelose en weeskinders noodsaaklik gemaak: die Anglo-Boereoorlog*, die Groot Griep van 1918 en die reeks depressies gepaardgaande met lang droogtes aan die begin van die 20ste eeu. Dit het onder Afrikaners* tot ver­skeie volkskongresse gelei waartydens ook aandag aan die kind in nood gegee is. Die verstedeliking in die 20ste eeu en gevolglike maatskaplike wanfunksionering, het die kerke genoodsaak om meer kinderhuise te bou. Vakkundige dienste was van die begin af ’n groot behoefte. Die eerste vakkundige werker was Maria Kloppers in 1894. Verder is kinderwette ontwikkel om die kindersorg te orden. Die eerste kinderwet was die “Wet ter beskerming van Kinderen” in 1913. Hierop het verskeie wette gevolg. Tans (2015) is die hoop dat die regte van kinders in ’n nuwe kinderwet voldoende beskerm word.

Kinderhuise is maar een van vele vorms van kindersorg. Plekke van veiligheid, pleegsorg en aanneming het deur die jare ook ’n groot rol gespeel in die versorging van kinders. Een van die sake waaroor daar onder kerke en ander groepe steeds meningsverskil bestaan, is die wettiging van aborsie in 1998. Baie duisende wettige aborsies word sedertdien jaarliks in Suid-Afrika uitgevoer en dit laat in baie gevalle ernstige sielkundige letsels op die betrokke moeders, en raak ook die beskikbaarheid van kindertjies vir aanneemouers regstreeks.

Ongehude ouerskap is deesdae sosiaal aanvaarbaarder as in die verlede. Dit bring mee dat sommige ongetroude ma’s self hulle kinders grootmaak. Hierdeur word meer­male probleme veroorsaak wat die betrokke kinders in ’n later ouderdom in die kinderversorgingsisteem laat beland. Fa­milie-aannemings neem ook toe en soms is dit op die lange duur om baie redes pro­blematies. Die aanneming van kinders deur gay* mense in ’n burgerlike verbintenis*, is ook ’n saak waaroor daar in Suid-Afrika meningsverskil bestaan.

Seker een van die ernstigste bedreigings vir ons kinders is die MIV en vigs*-pandemie wat meebring dat ongeveer 30% van alle babas van ouers wat MIV-positief is, met die virus gebore word. Inrigtings wat na MIV-positiewe babas omsien, vermeerder. Dwelmmisbruik onder kinders is ’n probleem met katastrofale gevolge. Behande­ling­sentra probeer help. Kinders bots weens sosiale wanfunksionering ook dikwels met die gereg en ernstige pogings word aangewend om te keer dat verhoorafwagtende kinders in gevangenisse aangehou word. Die staat se veiligheids­plekke is oorvol en kinderhuise byt die spit af. Die afskaling van staatsfinansiering noop kerke om finansieel groter verant­woordelikheid vir kinderhuise te aanvaar.

Vir verdere lees: JJ de Klerk et al 1990. Die Diens van Barmhartigheid in die Neder­duitse Gereformeerde Kerk. Kaapstad: NGKU.

Sidebar