KIVENGERE, FESTO

KIVENGERE, FESTO (1919–1988) is al die “Billy Graham van Afrika” genoem. An­der praat van “die bekendste kerkleier uit Afrika”. Op ’n uitgebreide Afrika-toer van Billy Graham* het Kivengere as tolk en me­de­spreker opgetree. Daarna het hy in ver­skeie lande in Afrika, Japan, Indonesië, die Suidsee-eilande, die Karibiese gebied, Amerika en verskillende lande van Europa opgetree.

Kivengere het veral in sy eie land sy stem­pel afgedruk. In 1973 is hy as 53-jarige evangelis tot biskop* van Kigezi, in die suide van Uganda, verkies. Baie gou het die nuus van ’n merkwaardige herlewing en groei in die bisdom bekend geword. In 1976 is ongeveer 30 000 nuwe lidmate tot die bisdom van Kigezi gevoeg. Hy het ook ’n besondere slag met die Moesliems* gehad.

In 1969 het Kivengere op besoek aan die VSA ’n Suid-Afrikaner, Michael Cassidy*, ontmoet. Cassidy was in daardie stadium ’n nagraadse student aan die Fuller-seminarie in Pasadena, Kalifornië. Uit dié verhouding is Africa Enterprise gebore wat op grootskaalse evangelisasiewerk in Afrika toegespits is met hoofkantore in Pietermaritz­burg en Nairobi. Hulle het dikwels tydens veldtogte saam opgetree – van Suid-Afrika tot in Egipte. Hulle is ook saam na die Lausanne-byeenkoms in Switserland. Kivengere en Cassidy en ’n groep entoesiastiese kollegas was ook verantwoordelik vir Pan African Christian Leadership (PACLA) in Nairobi in 1976.

Kivengere is die skrywer van talle artikels en boeke. Bekende titels uit sy pen is Jesus our Reality, When God Moves, Love Unli­mited, en I love Idi Amin.

Sidebar