KIZITO

KIZITO (circa 1872–1886) is deur Nyika, die seun van die gebiedshoofman van Bulemezi, as sy kind aangeneem. Koning Mutesa I het by sy troonsbestyging in 1884 vir Nyika as sg “Bewaker van die Koninklike Naelstring” aangewys – ’n posisie derde in rang in die koninkryk. Nyika was die Christendom* goedgesind en lede van sy familie was van die eerste Christene in Uganda wat deur die Katolieke* gedoop is. Kizito het ook ’n ywerige katkisant geword. Ná die marteldood van Mukaza* het hy bewus geword van die gevare waaraan hy as Christen blootgestel is, maar het nogtans daarop aangedring dat hy gedoop* word. Omdat hy so jonk en aantreklik was, was Kizito dikwels die prooi van die koning se attensies, maar hy het die koning se onwelkome aanslae weerstaan. Op 25 Mei 1886 is Kizito gedoop. Die volgende oggend het die koning beveel dat almal wat by die doopplegtigheid betrokke was, op die vuurstapel moet sterf. Op 3 Junie is die 31 jongmans en seuns verbrand. Die 14-jarige Kizito se laaste woorde was: “Totsiens, vriende, ons is op pad.”

In 1964 het pous Paulus IV Kizito en sy vriende gekanoniseer* en heilig verklaar.

 

Sidebar