KLAAGLIEDERE VAN JEREMIA (BYBELBOEK)

KLAAGLIEDERE VAN JEREMIA (BY­BEL­BOEK) bevat vyf liedere waarin geweeklaag word oor die val van die stad Jerusalem* in 587/6 vC voor die Babilo­niese* oormag. Dit probeer nie ’n kronologiese verslag oor die gebeure gee nie, maar weerspieël eerder die diep teologiese worsteling wat met die val van Jerusalem gepaard gegaan het.

Die naam van die boek gaan terug via die Latynse en Griekse* vertalings daarvan tot die Babiloniese Talmud* en ander vroeë rabbynse literatuur wat die boek so noem. In Hebreeus* begin die boek met ’n weemoedige en moedelose uitroep ’ekah (Ag …!). Die boek word tradisioneel met Jeremia* in verband gebring, hoewel dit onwaarskynlik is dat Jeremia vir die skryf van die vyf liedere verantwoordelik was. Daar is egter uit ander verwysings (bv 2 Kron 35:25) sprake dat Jeremia klaagliedere sou geskryf het. Verder het die profeet ook opgetree tydens die val van Je­ru­salem en die begin van die balling­skap*.

Op grond van hierdie verband staan die boek Klaagliedere in die meeste vertalings van die Bybel* direk ná die profeteboek van Jere­mia. In die Hebreeuse Bybel staan dit egter in die derde deel van die Ou Testa­mentiese* kanon*, die geskrifte*, waar dit een van die feesrolle (megillot) vorm. (Die boeke Hooglied*, Rut*, Klaagliedere, Prediker* en Ester* word tot vandag toe by die groot Joodse* feeste voorgelees.)

Vier van die vyf gedigte in Klaagl 1–4 is in die sg akrostiese digvorm (Kyk by: Akrostiek). Hiervolgens begin elke nuwe reël met ’n volgende letter van die Hebreeuse alfabet (wat 22 letters het). Hoof­stuk 3 bevat egter ’n uitgebreide akrostiek deurdat elke drie reëls met dieselfde letter begin (en die hoofstuk daarom 66 verse het).

Die tema van die boek is wanhoop en weeklag. Daar is egter ook elemente van hoop wat in hoofstuk 3 opduik. Dáár dui die digter aan dat daar net een rede is waarom ’n mens kan bly hoop, en dit is dat die Here die God van troue verbondsliefde (Kyk by: Verbondsteologie) is. Te midde van wanhoop kan aan hierdie wete vasgehou word. Die struktuur van die boek as geheel suggereer geensins dat die vernietiging en worsteling ontken moet word nie. Hoop is egter moontlik wanneer die fokus van die gelowige nie op die omstandighede gerig is nie, maar op God se verbondstrou.

Die boek Klaagliedere is ’n goeie voorbeeld van hoe gelowiges van die verlede voor God se aangesig geworstel het met die onverstaanbare en onverklaarbare aspekte van die lewe.

Sidebar