KLEMENS, TITUS FLAVIUS (KLEMENS VAN ALEKSANDRIË)

KLEMENS, TITUS FLAVIUS (KLEMENS VAN ALEKSANDRIË) (circa 155–220). Ons weet niks sekers oor Klemens se lewe nie, behalwe dat hy ’n ouer tydge­noot van Origenes* was en ’n enkele verwysing wat hy in een van sy werke maak (Stromateis 1.1.11). Hier sê hy dat hy ’n Christen* is wat op soek is na kennis oor God. Sy soektog het hom van Italië na Palestina* geneem totdat hy uiteindelik die regte leermeester in Egipte* gekry het. Dit was waarskynlik Pantaenus, een van die vroegste leermeesters in Aleksandrië, wat ook Origenes se leermeester was.

Klemens is waarskynlik in Atene/Athene* gebore, maar hy bring die grootste deel van sy lewe in Aleksandrië deur. Hy wil in sy werke die Christelike leer en die Griekse* kultuur met mekaar versoen. In kort voer Klemens aan dat verlossing (Kyk by: Redding) deur kennis (gnosis) kom. Christus* is die ware leermeester wat ons die ware kennis gee sodat ons vry kan word van ons sonde*, regverdig (Kyk by: Regverdiging) kan word en die ewige* lewe kan beërf.

Klemens se drie belangrikste werke vorm ’n trilogie wat die mens op sy reis van on­geloof tot volle kennis begelei: 1. sy Pro­trepticos is ’n uitnodiging aan die onge­lowige om homself te bekeer (Kyk by: Bekering); 2. in sy Pae­dagogos word die pas bekeerde deur Chris­tus self onderrig om ’n morele lewe (Kyk by: Morele integriteit) te lei; en 3. sy Stromata onderrig die reeds volwas­se gelowige verder. Alhoewel die Katolieke Kerk* vandag sekere van sy leerstellings as “kontroversieel” beskou, het Klemens ’n be­lang­rike bydrae tot die ontwikkeling van Christelike denke gelewer.

Sidebar