KNOX, JOHN

KNOX, JOHN (circa 1513-1572) het ge­studeer aan die Universiteit van St Andrews, waar hy onder John Major se invloed gekom het. Hy is as priester*2 en apostoliese notaris gewy, maar het hom in 1545 by die Zwingliaanse Hervormer George Wishart aangesluit. Ná Wishart se marteldood en die moord op kardinaal* Beaton het Knox deelgeneem aan die verdediging van die St Andrews-kasteel. Dit het uitgeloop op ’n tydperk as Franse gevangene en galeislaaf. Hy het die jare 1549–1554 in Engeland deurgebring waar hy by die Engelse Hervor­ming* betrokke was. Met die troonbestyging van Mary Tudor*, ’n Katoliek*, het Knox uitgewyk na Genève, waar hy predikant* van die plaaslike Engelse gemeente geword en onder Johannes Calvyn* se invloed ge­kom het. Alhoewel hy ’n aanhanger van Cal­vyn was, het hy hom nie blindelings nagevolg nie, bv wat die gebruik van die nagmaal* betref. Teen 1559 het hy teruggekeer na Skotland, waar hy een van die leiersfigure in die Skotse Her­vor­ming (1560) was. Knox was nie ’n groot teoloog* nie, maar danksy sy leiers­vaar­dig­hede en wel­­sprekendheid, het hy ’n blywen­de merk op die Skotse geskiedenis gelaat. Hy het gedurig met die Skotse Katolieke ko­­ningin Mary gebots. Al sy skryf­­werk ge­tuig van sy hart­stog­telike verbintenis tot die saak van die Hervor­ming. Sy History of the Reformation in Scotland (1559-1571) is waarskynlik sy grootste bydrae as skrywer.

 

Sidebar