KOLOSSENSE (BYBELBOEK)

KOLOSSENSE (BYBELBOEK). Dié brief* is gerig aan die Christelike ge­meente* in Kolosse, geleë in Frigië*, Klein-Asië*, ’n pleknaam wat net in die briefopskrif en in Kol 1:2 vermeld word. Alhoewel Kolosse tydens die Romeinse periode (Kyk by: Romeinse Ryk) ’n belangrike stad was waarvan die ekonomie hoofsaaklik om die tekstielbedryf gewentel het, is dit gaandeweg oorskadu deur sy buurstede en veral Laodisea*. In Nuwe-Testamentiese* tye was daar waarskynlik ’n aansienlike aantal Joodse* inwoners in die stad. Sommige meen dat Filemon* en sy huishouding (insluitende die slaaf* Onesimus*) hier kon gewoon het. Kolossense is tradisioneel as een van Paulus* se gevangenskapsbriewe beskou, en vertoon interessante ooreen­koms­te met ander briewe uit die Pauliniese tradisie, veral Efesiërs* en Filemon*. Som­mige meen dat Paulus Kolosse moontlik vroeër besoek het (Kol 2:1), of dat hy hier aangedoen het op pad na Efese (Hand 18:23), of toe hy vir ’n geruime tyd in Efese gewoon het. Epafras*, wat ook in Laodisea en Hierapolis werksaam was, het waarskynlik die gemeente* op die been gebring.

Wat outeurskap betref, is die ouer, meer behoudende standpunt dat Paulus die skrywer is. Tans beskou sommige dit as ’n deutero-Pauliniese geskrif as gevolg van vyf belangrike verskille met die outentieke Pauliniese briewe: verskille in woordeskat, literêre afhanklikheid van ander briewe, stylverskille, die andersoortige teologiese* benadering en die uitbeelding van Paulus se apostel*-amp en status. Die brief is waarskynlik ná Paulus se dood in die 65–90 nC-periode geskryf, en ofskoon die ont­staans­plek onseker is, was dit moontlik êrens in Klein-Asië in die lig van die geo­gra­fiese aanwysings in die dokument. Al­hoe­wel die brief om strategiese redes aan die Kolossense gerig is, was dit waarskynlik bedoel vir die gemeente in Laodisea; Kolos­se was ná aardbewings in 61–62 nC nie gou weer digbevolk nie. Die voorstel dat Epafras* (Kol 1:7-8, 4:12-13) die outeur was, is ’n moontlikheid, maar kan nie be­wys word nie.

Kolossense is geskryf om die gemeente teen ’n vals, sinkretistiese* leerstelling wat elemente van verskillende godsdienstige en filosofiese tradisies vermeng het, te waar­sku. Verwysings hierna (2:4-5) maak onge­luk­kig nie die volledige inhoud of identiteit daarvan bekend nie. Die belangrikste tema wat in die boek behandel word, sentreer rondom die outeur – wat duidelik hoë ag­ting vir Paulus gehad het – se vermaning dat gelowiges nie gehoor moet gee aan die leringe van die vals* leraars nie, maar hulle geloof* in die Here* Jesus* Christus* alleen moet behou. Die lesers het oënskynlik gevaar ge­loop om aspekte van die Joodse gods­diens en heidense* gebruike met hulle ge­loof te vermeng (Kol 2:6-23).

Sidebar