KOMMUNISME EN NEO-MARXISME

KOMMUNISME EN NEO-MARXISME. Die woordeboekdefinisie van kommunisme lui soos volg: “1. Sosiale en politieke leer, gebaseer op die beginsels van Karl Marx*, wat die geskiedenis vertolk met as uiteindelike resultaat ’n oorwinning deur die proletariaat en die vestiging van ’n stelsel van gemeenskaplike besit van produksie- en verbruiksmiddele. 2. Totalitaristiese rege­ring­stel­sel waarin die staat eienaar is van die vernaamste nywerhede, en deur middel van een party die ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe van die volk beheer” (HAT, 2005).

Die kommunisme van Marx en Vladimir Lenin* laat God buite rekening en is volledig gerig op die mens, is toegespits op die klassestryd en wat beskou word as die ekonomiese uitbuiting van die proletariaat (die klas sonder besittings) in kapitalistiese* lande, en is gerig op die selfverlossing van die proletariaat in wat uiteindelik ’n kommunistiese wêreldrevolusie moet wees.

Omdat die kommunistiese revolusie, soos in die geskiedenis uitgespeel, nie in ’n tegnies-hoogs­ontwikkelde land plaasgevind het nie, maar in ’n armer land, Rusland, en die uitbuiting van die werkers deurlopend in Rusland aan die orde van die dag was, het daar in plaas van klaslose vryheid en gelykheid diktature ontstaan wat met ’n ysterhand deur  Lenin en Josef Stalin* geregeer is – en vir miljoene mense nie ’n beter lewe gebied het nie, maar hulle letterlik hulle lewe gekos het.

Lenin het die standpunt van Marx, naamlik dat die sosialisme* tegelyk in alle ontwikkelde lande moes seëvier, tydens die Eerste Wêreldoorlog* ingeruil vir sy mono­polie-kapitalisme waarvolgens imperia­lisme* en kolonialisme* die laaste fase van die kapitalisme sou wees – en hierdie sie­ning vereis slegs dat die swakste skakel moet ingee en nie noodwendig tegelyk ook alle ontwikkelde lande nie. Tydens die regeertyd van Stalin is die kommunistiese mags­ap­paraat in Rusland steeds versterk – in stryd met die voorspellings van Marx, Engels en Lenin (tot 1918) wat geglo het dat die kommunisme sou lei tot ’n “afsterwe van die staat”.

Die revolusionêre dialektiek wat by Marx uitmond in die kommunistiese heilstaat, ken by die neoMarxiste geen einde nie. Teen­oor die eise van die gevestigde (tegnokratiese) samelewing (soos orde, effektiewe produksie, ekonomiese groei, produktiewe arbeid) stel die revolusionêre utopie van die neo-Marxiste die eise van vrede, vryheid, geluk en liefde, lus, spel en erotiek wat na vore moet tree in skeppend-spontane kwalitatiewe veranderings. Die Bybelse leer van die die sondeval* is deur die neo-Marxisme geradikaliseer tot die herhalende revolusie, want elke nuwe orde is per definisie korrup.

Die tragiese ironie van die kommunisme spesifiek in Rusland is dat dit die teendeel bereik het van wat beoog is. Die ideaal was dat almal uiteindelik alles sou besit, maar in Rusland was die uiteinde van die kommunisme dat niemand iets besit het nie. (Kyk ook: Sosialisme.)

Sidebar