KONFESSIONALISME

KONFESSIONALISME moet verstaan word teen die agtergrond van kerke wat geloofswaarhede bely en daardie oortui­gings in gesagvolle dokumente uitspel. So ontstaan belydenisskrifte*, wat gesag het in die kerke wat daardie belydenisskrifte as sodanig aanvaar. Dit is veral duidelik die geval in gereformeerde* kerke. Konfessiona­lisme is waar hierdie belydenisskrifte in be­ginsel as onveranderlik gesien word. Volle en onverwaterde instemming met die letter van ’n belydenisskrif word vereis en daar word eerder na dogmatiese korrektheid gestreef as na inklusiwiteit of diversiteit in interpretasies van die belydenisse. Konfes­sio­nalisme is nie bereid om geloof* nuut of anders te formuleer in die lig van nuwe omstandighede nie, maar volstaan met die tradisionele uitdrukking van geloof. Die belydenisskrif word verabsoluteer en die konteks waarbinne dit tot stand gekom het, word uit die oog verloor. Konfessionalisme het ook tot gevolg dat daar aan belydenisskrifte net soveel gesag as aan die Bybel* toegeken word. Die feit dat belydenisskrifte steeds onder gesag van die Bybel staan, word uit die oog verloor en die verhouding tussen die belydenisskrifte en die Bybel kom in die gedrang. Konfessionalisme kom veral in gereformeerde kerke voor waar die Kerkhervorming* as histories afgehandel gesien word en die belydenisse finaal gekanoniseer en op stuk van sake as onveranderlik erken is.

Sidebar