KONFESSIONELE TEOLOGIE

KONFESSIONELE TEOLOGIE. Bely­de­nisse (konfessies) (Kyk by: Belydenis) was van die begin van die Christendom* af ’n integrale deel van die geloof*, en het hulle oorsprong in die Vroeë Kerk* se belydenis dat Jesus* die Here* is. Die woord “confessio” verwys aanvanklik na ’n martelaar* se belydenis van sy geloof voor die wêreld. “Konfessionele teo­logie” bemoei hom met voortgaande wor‑- s­teling binne die Christelike tradisie om teenoor die wêreld ons geloof in die opge­stane Jesus te bely deur aan die hand van veral belydenisskrifte* verantwoording te doen oor die inhoud en betekenis van die geloof in die lig van nuwe uitdagings.

In die eerste vyf eeue nC is belydenis­vorming gekenmerk deur die strewe om finaliteit te ­kry oor drie groot teologiese* strydvrae oor Christus*, nl Christus se verhou­ding tot God, die verhouding van God en mens in Christus, en die verlossingswerk van Christus. Die produk hiervan was die drie ekumeniese konfessies van die Wes­terse kerk, naamlik die Apostoliese Geloofs­belydenis* (150 nC), die Geloofsbelydenis van Nisea* (381 nC) en die Geloofsbelydenis van Atanasius* (500 nC).

Met die aanbreek van die Kerkhervor­ming*, kry die behoefte aan belydenis­vorming weer nuwe impetus. Die gerefor­meerde* klem op die Woord* as enigste maatstaf (sola scriptura) vra vir ’n nuwe sistematisering van geloofswaarhede in reaksie op dwalings in die Katolieke Kerk*, maar ook om die kerk opnuut te orden rond­om die diens en die tug* van die Woord. Die Nederlandse Geloofsbelydenis* (1561), opgestel deur Guido de Brés* as verdediging van die gereformeerde geloof teenoor die Katolieke koning van Spanje, die Heidelbergse Kategismus* (1563), opge­stel as leerboek vir die jeug in opdrag van keurvors Frederik III, en die Dordtse Leer­reels* (1611), die Sinode van Dordt se ant­woord op die dwalings van Arminius*, kry mettertyd binne die gereformeerde tradisie die status van die “Drie Formuliere van Eenheid*”.

Konfessionele teologie kry verder uit­druk­king in die proses van voortgaande bely­denisvorming, waarvan die eietydse Bely­denis van Belhar* (1986) in ons land getuig.

Vir verdere lees: WD Jonker 1994. Bevry­dende waarheid. Wellington: Hugenote-Uitgewers.

Sidebar