KONGREGASIONALISME

KONGREGASIONALISME is die benadering van ’n kerklike groepering wat hulle beslag uit die puriteine* van die 17de eeu gekry het. Die kleinseun van Mary Stuart, koning Karel I (1625–1649), wou met mag die Anglikaanse* tradisie bevorder, maar moes die aftog teen sy parlement blaas wat die Westminster-Konfessie* (1646), met sy sterk presbiteriale* inslag, aanvaar het. Die Kongregasionaliste was, soos ook die Independentiste*, onder diegene wat as die “nonkonformiste” bekend gestaan het en die indiwidualiteit en selfstandigheid van elke plaaslike gemeente* sterk bepleit het. Met Oliver Cromwell (1599–1658) se bewind, bekom hulle ook ’n vastrapplek in die Britse kerklike samelewing.

Die Savoy Declaration (1658) het die leer van die Kongregasionaliste uiteengesit en daarin is die Westminster-Konfessie grootliks aanvaar, maar natuurlik nié die afde­ling oor kerkregering* en sinodes* nie.

Dit sou veral die puriteinse Kongrega­sio­naliste wees wat na die VSA uitgewyk het, soos bv die Pilgrim Fathers wat hulle, ná ’n verposing in Leiden, met hulle predikant, John Robinson, in Massachusetts gevestig het. Hulle inslag van toleransie en onafhanklikheid het ook later ’n bedui­dende invloed uitgeoefen op die Ameri­kaanse “Declaration of Independence” (1776) van Thomas Jefferson.

Die oudste teologiese seminarie in die VSA, gestig in 1807 in Andover, het ook aan die Kongregasionaliste behoort.

Sidebar