KONING

KONING. In Bybelse* tye was daar drie soorte konings: 1. Plaaslike heersers soos Hebron* se koning (Jos 10:3); 2. Assirië se koning wat met sy leër as die godheid se verteenwoordiger beskou is (Kyk by: Assiriese Ryk); 3. Egipte* se koning wat aanspraak maak om self god te wees. Israel* was ’n teokrasie* waar God koning is oor sy volk (1 Sam 12:12). Moses* was God se verteenwoordiger (Eks 18:16; 20:1). Later was daar charismatiese leiers wat soms as “konings” beskou is (Rig 9:6; 11:9). Eindelik vra Israel ’n eie (menslike) koning (1 Sam 8:7, 22). God sluit ’n ver­bond* met Dawid* en belowe ’n blywende koningshuis (2 Sam 7:1-16). Die koning word as die Messias* se voorloper gesien. Profetiese kritiek teen die koning berus daarop dat God self koning oor sy volk is (Jer 7:1-10; Ps 95:3). Ná Salomo* verdeel die koninkryk en verval.

Jesus* het sy optrede begin met die aankondiging dat die koninkryk* van God, wat wil sê: God se heerskappy, nou aanbreek. By sy geboorte (Matt 2:2) en sterwe (Mark 15:32) is Jesus as koning aangedui sonder dat die ware betekenis hiervan verstaan is. Die be­loftes* dat die Messias as Seun van Dawid sy volk sal verlos (Matt 21:9) en God weer koning sal wees, het nou waar geword.

Die konings waarvan die Nuwe Testa­ment* praat (bv koning Hero­des*), het namens Rome regeer.

 

Sidebar