KONINKRYK VAN GOD

KONINKRYK VAN GOD. 1. Dié term funksioneer in die Bybel* nie as ’n statiese voorstelling (God op sy troon in sy ryksgebied) nie, maar in ’n dinamiese, aktiewe sin. As die lewende en handelende God, oefen God sy koningskap uit deur sy roemryke dade (uittog, intog, terugkeer uit balling­skap*, en so meer). 2. Alhoewel dit ’n sentrale konsep in die Bybel is, kom dit nie as ’n selfstandige tema voor nie. Dit funksioneer binne die ruimte van God se genadeverbond* met Israel*. Die Koning is tegelyk die Verbondsgod, en hierdie liefdes­verbintenis kleur en bepaal sy koningskap. Sy handelinge is daarom veral heilsdade (Kyk by: Heil), gerig op Israel se redding, bevryding en vrede (sjalom) – en as keersy, dade van oor­deel en straf wanneer sy liefdesbemoeienis geminag word. 3. Wanneer Israel se profete* en digters Jahwe* as Koning bely wat soe­werein (met oppergesag) oor alle volke, gode, natuurkragte en wêreldmagte regeer, gaan dit daarom nooit oor ’n absolute mag en majesteit as sodanig nie, maar oor die heils­inhoud van sy koningskap. Om dié rede gaan hulle belydenis in lofverheffing oor. God troon inderdaad op die lofsange van Israel (Ps 22:4 – Nederlandse vertaling, 1959). Om dieselfde rede moet sy dade aan die nasies verkondig word (Ps 105:1-2; Jes 12:4-5), en volke én vorste word opgeroep om sy heerskappy te erken en in Israel se lof te deel (Ps 2; 47; 93–99; Jes 42:10-12). 4. Binne die heilshistoriese perke van die Ou Testament*, is die koningskap van Jahwe wel ’n werklikheid, maar op verborge wyse, en die profetiese vergesigte meestal toekomsmusiek, gesentreer in die komende Messias-Koning (Jes 8:23–9:6; 11:1-10). 5. Israel se groot verwagting word verwesenlik in die “volheid van die tyd” (Gal 4:4). Soos Johannes die Doper* begin Jesus* sy Messiaanse bediening met die vreugdeboodskap (“evangelie”*, Mark 1:14-15) dat die koninkryk van God naby gekom het, en in sy prediking bly die koninkryk deurgaans ’n fokuspunt (vgl Mark 4:11, 30, ens). Hierdie evangelie word begelei en bevestig deur genesings, opwekking van dooies, mag oor die natuur – as soveel tekens van die gekome koninkryk (Matt 4:23-24; Joh 2:11; 3:2-3). Veral die uitban van demone* is, volgens Jesus self, die waar­merk van die koninkryk (Luk 11:20). Met reg praat Origenes* (3de eeu nC) van Chris­tus* as die outobasileia, dit wil sê, in Hom­sélf is die koninkryk aanwesig. Daarom klink die woord “vervul” soos ’n blye refrein dwarsdeur die Nuwe Testament* (bv Luk 4:21), en daarmee saam – uiteraard en des te meer! – die lofsange vir “Hom wat vir ewig Koning is” (1 Tim 1:17; vgl 6:15-16). 6. Wanneer daar soms in die Nuwe Testament gepraat word van “die koninkryk van die Seun/Christus” (bv Kol 1:13), word dit nie van die koninkryk van God onderskei nie (vgl Ef 5:5; Op 22:1, 3: “… die troon van God en van die Lam …”). God regeer in en deur sy Seun (Heidelbergse Kategismus*, Antwoord 50). 7. Kerk* en koninkryk is nie een en dieselfde nie, maar daar bestaan wel die allernouste verband. Kragtens haar missie om die evangelie van die koninkryk aan alle nasies te verkondig, is die kerk gesant en herout van die gekome en komende Koning en sy ryk (Luk 24:47; 1 Pet 2:9). 8. Hoe onweerspreeklik ook in Jesus Christus gemanifesteer, is daar steeds ’n verborge sy, ’n toekomsaspek aan die koninkryk. Oor hierdie “nog nie” is die Nuwe Testament ewe duidelik as oor die “reeds”. Eers met Christus se weder­koms* sal die koninkryk in volkomenheid kom. Op God se “bestemde tyd” sal Hy as “Koning van die konings” Christus in heerlikheid laat verskyn (1 Tim 6:15). In die boek Openbaring* kry ons voorlopig enkele flitse van die onvoorstelbare heerlikheid wat wag wanneer verbond én koningskap finaal verwesenlik is (vgl Op 21:1-5). 9. Oor hierdie hoogtepunt – en nuwe beginpunt, noudat die dinge van vroeër verbygegaan het (Op 21:4) – hoef daar by ons nie die minste onsekerheid te bestaan nie. Dit is ’n lewende hoop waarvan die opstanding* van Jesus Christus die waarborg is (1 Pet 1:3; 1 Kor 15:20, 22). Die Komende is Hy wat reeds gekom het (Op 22:12-13, 20). In sy Persoon is die volheid van die tyd en die voleinding van die eeue onlosmaaklik één. Daar is niks wat méér seker is as hierdie hoop nie: dit is gegrond in Hom, die “ja” op al die beloftes van God (2 Kor 1:20).

Vir verdere lees: J Bright 1955. The Kingdom of God in Bible and Church. Londen: Lutterworth. OE Evans 1992. “King­dom of God, of Heaven” in: GA Buttrick (red), The Interpreter’s Dictionary of the Bible, Vol 3. Nashville: Abingdon.

 

Sidebar