KONSERWATISME

KONSERWATISME beskryf óf ’n onkritiese houding waarin die bestaande sosiale orde (die status quo) ondersteun word en slegs geleidelike aanpassings in die lig van ervaring en beproefde oortuigings aanvaar word, óf dit verwys na die onderskrywing van tradisionele waardes waarmee mense vertroud geraak het en wat hulle as gesag­hebbend beskou, en gevolglik benut om hulle leefwêreld te beoordeel. Die twee verskynsels kom in die praktyk dikwels saam voor. Dit kom in verskillende kontekste voor, bv die kulturele (Kyk by: Kultuur), politieke of religieuse (godsdienstige) konteks. In kulturele konteks kan dit die vorm aanneem van die ondersteu­ning van ’n spesifieke morele kode (Kyk by: Moraal); in ’n politieke konteks kan dit die vorm aanneem van nasionalisme*; in teologiese terme is dit ’n behoudende benadering tot Christelike geloofsoortuigings waar die tradisionele verstaan van die Bybel*, die vashou aan die uitdrukking daarvan in belydenisse* en die tradisionele handhawing van waardes* en leerstellings* voorop staan, en kan soms selfs die vorm van fundamentalisme* aanneem. Etiese optrede word eerder aan die hand van die verlede as aan die hand van die toekoms georiënteer.

Die term neo-konserwatisme word gebruik om ’n beweging wat in die VSA in die laat-20ste en vroeg-21ste eeu gegroei het uit die evangelikale beweging* (“evangelicals”), aan te dui. Die beweging handhaaf die tradisionele, letterlike verstaan van die Bybel en probeer om dit te versoen met moderne wetenskaplike insigte. Dit is ook bekend as “The New Christian Right”. Dit groei van ’n godsdienstige beweging na ’n georganiseerde politieke beweging wat veral kragte mobiliseer rondom die debat in die VSA oor die ontstaan van die skep­ping* en evolusie*. Die neo-konserwatiewe beweging beklemtoon behoudende godsdienstige waardes en gebruik staatkundige, politieke en juridiese prosesse om dit te handhaaf. Die “Moral Majority*” (aanvanklik onder leiding van Jerry Falwell) en die “Christian Coalition” (aanvanklik onder leiding van Pat Robinson) is bekende organisasies in dié beweging. Die (destydse) militante Protestantisme* van Ian Paisley in Noord-Ierland stem hiermee ooreen.

Vir verdere lees: BE Brasher (red) 2001. Encyclopedia of Fundamentalism. New York, Londen: Routledge.

 

Sidebar