KONSTANTYN DIE GROTE (GAIUS FLAVIUS VALERIUS CONSTANTINUS)

KONSTANTYN DIE GROTE (GAIUS FLAVIUS VALERIUS CONSTANTINUS) (circa 274–337) was een van die belangrike figure van sy tyd in die algemene en ook in die kerkgeskiedenis*. Hy was die eerste Christelike keiser* van die Romeinse Ryk*. In 312 het hy die belang­rike veldslag by die Milviese brug gewen en in 313 is die Edik van Milaan* uitgevaardig waarvolgens die Christelike geloof* as ’n erkende godsdiens geduld en verdra moes word. Intussen streef hy voortdurend na groter eenheid in sy ryk. Konstantyn was in 330 die stigter en grondlegger van die invloedryke stad Konstantinopel*, wat onder andere ten doel gehad het om sy invloed in die oostelike deel van sy ryk te versterk. Hy het hierdie stad om Christelike en strategiese redes ver weg van Rome* gevestig, ook omdat Rome destyds al meer as die simbool van die heidendom* gesien is. Oor die egtheid van Konstantyn se Christenskap en sy motiewe bestaan daar soms twyfel, maar dit moet gestel word dat die Christendom* sonder sy bydrae veel anders sou gegroei en ontwikkel het. Dat hy politieke mag en invloed nagestreef het, is nie te betwyfel nie, maar sy bydrae ten opsigte van die Christendom was groter as sy persoonlike magspel of agenda. In 325 roep hy die Konsilie van Nisea* byeen, en op sy sterfbed is hy deur Eusebius* gedoop*.

Sidebar