KONSUBSTANSIASIE

KONSUBSTANSIASIE. Gedurende die Kerkhervorming* in die 16de eeu het daar ’n hewige stryd tussen Christene oor die nagmaal* ontstaan. Aan die een kant was daar die Katolieke Kerk* met hulle opvatting dat die nagmaal ’n misoffer* is wat volgens die filosofiese beginsel van transsub­stansiasie* werk. Die sigbare eienskappe van die brood en wyn bly dieselfde, maar die onsigbare wese (substansie) daarvan verander in die fisieke liggaam en bloed van die Here*. Hiermee het die Hervormers gebreek. Terwyl Zwingli* beweer het dat die nagmaal slegs ’n simboliese gedenk­maaltyd was, wou Luther* daaraan vashou dat Christus* werklik liggaamlik by die nagmaal teenwoordig is. Hy het gemeen dat Christus ook na sy menslike natuur alomteenwoordig is. Daarom is sy liggaam en bloed verenig met die tekens van brood en wyn, soos die vereniging van vuur en yster in gloeiende yster. Luther het nie self die term “konsubstansiasie” vir sy siening gebruik nie. Ander het dit gemunt en hom daarvan beskuldig dat hy, met sy idee dat Christus se liggaam en bloed wesenlik saam met (Latyn: con) die tekens teen­woordig is, nader aan die Katolieke standpunt staan.

Gereformeerdes* volg Calvyn* se nagmaalbeskouing. Die nagmaal is inderdaad méér as ’n gedagtenismaal. Christus is werklik daar aanwesig, maar dan deur die Gees*, sodat ons deur die geloof* met Hom gemeenskap het.

Sidebar