KONTEKSTUALISERING

KONTEKSTUALISERING is as term die eerste keer in 1972 deur S Coe en A Sapsezian van die Theological Education Fund gebruik. Die woord het gou ingeslaan en is algemeen gebruik vir ’n verskeidenheid teologiese modelle, onder andere die bevrydingsteologie* Daar is geoordeel dat die term “inheemswording*” dui op die tuiskoms in die tradisionele kultuur*, en dat dit ’n statiese kultuurbeskouing het en op die verlede gerig is. Kontekstualisering sluit alles in wat met inheemswording bedoel is, maar brei dit uit na ’n meer dina­miese benadering wat ook die politieke en sosiologiese werklikhede, en die verande­rings wat plaasvind weens akkulturasie*, in ag neem. Kontekstualisering het die be­doeling om die hier en nou ernstig te neem – veral die hede soos dit deur die armes en verstotenes ervaar word. Teologie* is dan nie teorie wat toegepas word nie, maar “kritiese refleksie op Christelike praxis in die lig van die Woord van God” (Gutiérrez). Die Bybel* self is kontekstueel, en dit dring die teoloog om betrokke te raak by die konteks en nie, soos ’n eensame voël op die dak (Barth), net die gebeure te beskou en te raas nie. Die risiko’s wat in gedagte gehou moet word, sluit in dat oordrewe kontekstualisering tot relatiwisme* lei en die eenheid van die kerk* kan bedreig. Die kerk mag nie deur die konteks bepaal word en sy identiteit verloor nie. (Kyk ook: Kommunikasie en sending.)

Sidebar