KONVENT

KONVENT. Gereformeerd*-kerkregtelik* en histories is ’n kerklike konvent, in teenstelling met ’n formele kerkvergadering (hetsy kerkraad*, ring*, sinode*) ’n byeen­koms van persone uit kerke wat nie in dieselfde sin “afgevaardigdes” van die deelnemende kerke is nie en daarom ook nie die bevoegdheid het om besluite te neem wat sonder meer bindend is op die kerke waar­uit hulle kom nie. Die deelnemers kom op die basis van hulle integriteit met mekaar ooreen oor sekere beginsels wat in die konvent gehandhaaf en uitgebou moet word. ’n Konvent is dus ’n byeenkoms waar afge­vaar­digdes buite die amptelike strukture ver­gader, verhoudings bou, en verbinte­nis­se met mekaar aangaan wat nie deur kerk­ordelike bepalings afgedwing of afgekeur kan word nie, maar op gesag van hulle in­teg­riteit. Eers wanneer die aanbevelings van die konvent deur die onderskeie verbande se wettig-gekonstitueerde vergaderings aanvaar is, word die besluite van die konvent kerkregtelik bindend.

Die eerste samekoms van die kerk waar­oor Hand 15 berig, kan as die eerste kerklike konvent beskou word. Dit was nie soos ’n Katolieke* konsilie waar die kerklike leiers op grond van hulle amp uit ’n bepaal­de gebied saamgetrek is nie. Dit was ook nie soos ’n gereformeerde sinode waarheen verskillende selfstandige gemeentes predi­kante* en ouderlinge*/diakens* afgevaardig het nie. Dit was ’n samekoms (konvent) van die kerk van Jerusalem* met afgevaardigdes uit Antiogië*, omdat die noodsaaklike eenheid tussen die gemeentes* weens verskil onder die apostels* oor die besnydenis* van nie-Jood­se Christene*, in gevaar was.

Die idee van ’n konvent binne die kerklike konteks in Suid-Afrika het sy ontstaan in die NG Ring van Wynberg gehad. In 1992 het die Ring van Wynberg van die NG Kerk* en die Ring van Wynberg van die NG Sendingkerk* besluit om ’n konvent as basis van samewerking te aanvaar. Daarna het verskeie sinodes op streekvlak met konvente begin.

Sidebar