KORES

KORES, ook bekend as Kores die Grote (“Cyrus” in Engels), was die grondlegger van die Persiese Ryk* wat ’n belangrike rol gespeel het teen die einde van die geskiedenis wat in die Ou Testament* beskryf word. Sy pa was Kambuses en sy ma waarskynlik ’n Mediër-prinses. In 559 vC het hy koning van die Perse geword en in 550 vC het hy die Mediërs verslaan en het die Persiese Ryk die Mediese Ryk ingesluit. Hierna het hy die Lidiese Ryk onder Kroesus verower. In 539 vC het Kores Babel* ingeneem, waar hy met oop arms deur die plaaslike bevolking ontvang is. So het hy die Babiloniese Ryk* deel van die Persiese Ryk gemaak, met ’n grens wat tot by Egipte* gestrek het. Kores het in 529 vC gesterf in ’n veldslag teen mense wat sy ryk van die ooste af ingeval het.

2 Kron 36:22-23 en Esra 1:1-4 vertel dat Kores aan die ballinge van Juda*4 (Kyk by: Ballingskap*2) toestemming gegee het om na hulle eie land terug te keer. Hy het beveel dat die tempel*2 van God in Jerusa­lem* herbou moes word. Volgens Esra 1:7-11 het hy die voorwerpe wat Nebukad­ne­sar* uit die tempel geroof het met die verwoesting daarvan, teruggegee. Hierdie op­tre­de was in ooreenstemming met sy op­trede teenoor ander volke. In Jes 44:28 en 45:1 word Kores by name aangewys as die een deur wie die Here sy volk uit balling­skap sou laat terugkeer. Hy word selfs die gesalfde (= Messias) van die Here genoem. As dié gedeelte wel aan Jesaja* van Jerusa­lem toegeskryf kan word, is dit ’n merkwaardige voorspelling van bykans 200 jaar vóór die gebeure. Dit is egter waarskynliker dat die gedeelte geskryf is deur ’n onbe­kende profeet* in die laaste deel van die ballingskap. In elk geval beklemtoon die gedeelte die mag van God wat selfs heidense konings kan gebruik om sy planne deur te voer.

Sidebar