1 EN 2 KRONIEKE (BYBELBOEKE)

1 EN 2 KRONIEKE (BYBELBOEKE). Vir baie lank was die Kroniekboeke ’n afgeskeepte deel van die Ou Testament*. Die rede daarvoor is waarskynlik omdat dit oënskynlik ’n herhaling is van die geskiedenis van Ou Israel* wat reeds in die Samuel*- en Koningsboeke* aan die orde gekom het. Alreeds in die laaste twee eeue vC het hierdie persepsie bestaan. Die Septuagin­ta*-vertalers (wat die Ou Testament* in Grieks* vertaal het) het die boeke Para­leipomenon (“die orige dinge”) genoem. Daarmee is gesuggereer dat Kronieke bloot ’n paar byvoegsels tot die ander geskiede­nis­boeke bevat.

In die afgelope twee dekades het Bybel­wetenskaplikes al meer ontdek dat hierdie boeke ’n eie aksent wou plaas op die be­skrywing van die geskiedenis. ’n Vergely­king van die Kroniekboeke met die Deute­ro­no­mistiese geskiedwerk* (veral Samuel* en Konings*) lewer interessante variasies op. Hierdie variasies het heel waarskynlik daarmee te maak dat die konteks waarin Kronieke tot stand kom, ’n andersoortige nadenke oor die verlede, en veral oor God se rol in die verlede, hede en toekoms, ge­noodsaak het. Daarom word die ouer geskiedenistradisies nie klakkeloos nage­volg nie, maar word die geskiedenis herskryf met die oog daarop om die hede beter te verstaan, en om die toekoms met meer moed tegemoet te gaan.

Kronieke, wat aanvanklik as een boek gefunksioneer het, is een van die jongste boeke in die Ou Testament. In die He­breeuse* Bybel neem dit daarom ook die laaste plek in. Die Septuaginta het dit egter verskuif tot direk ná die Koningsboeke – ’n weerspieëling van die feit dat hierdie vertalers dit as blote toevoegsels tot die vroeëre geskiedenis beskou het. Die Septua­ginta-volgorde word steeds in die meeste vertalings nagevolg.

Oorsprong en agtergrond: Kronieke kom tot stand ná die ballingskap* – heel waarskynlik teen die einde van die Persiese periode wat tot ongeveer 332 vC gestrek het. Die boek sluit in 2 Kron 36:22-23 af met ’n beskrywing van die proklamasie van Kores* waardeur die Joodse* ballinge toegelaat is om na hulle land terug te keer. (Hierdie gegewens ontbreek aan die einde van die Koningsboeke, omdat dié boeke waarskynlik tot stand gekom het vóór die einde van die ballingskap.) Daaruit kan afgelei word dat die periode van herstel en heropbou ná die ballingskap die agtergrond vorm waarteen die boek gelees moet word.

Kores van Persië het in 539 vC die mag­tige Babilon* verower en beheer oorgeneem oor die destydse Ou Nabye Ooste. In 538 vC het hy sy proklamasie uitgevaardig en kon die Joodse ballinge begin terugkeer. Die Persiese oorheersing sou vir ongeveer 200 jaar voortduur totdat die Grieke met Aleksander* die Grote se veldtogte in 332 vC die beheer sou oorneem.

Die Persiese beleid oor hulle verowerde gebiede was baie anders as dié van hulle voorgangers, die Babiloniërs* en Assiriërs*. Die Persiese heersers het groter verdraag­saamheid gehad vir die verskillende etniese groeperings en godsdienstige oortuigings wat in die magtige ryk verteenwoordig was. Daarom dat die Joodse* ballinge na hulle land kon terugkeer, en selfs met Persiese finansiële ondersteuning kon begin om die tempel* in Jerusalem* te herbou.

Die Persiese Ryk is in provinsies (“satrapieë”) georganiseer. Die Persiese pro­vinsie Jehud is geproklameer in die om­ge­wing van Jerusalem – ongeveer in dieselfde gebied waar die koninkryk van Juda* voorheen bestaan het. Hierdie provinsie vorm die geografiese agtergrond vir die Kroniekboeke.

In die tydperk van heropbou ná die ballingskap het die konflik tussen die verskillende dele van die Joodse priesterskap verskerp, en het die Sadokiete weer hulle magsmonopolie teenoor die Leviete* pro­beer vestig. Die Kroniekboeke se ontstaan is ook deeglik deur hierdie kultiese omstan­dig­hede beïnvloed.

Inhoud: Die Kroniekboeke val in ’n paar duidelike dele uiteen:

  1. 1 Kron 1–10: Hierdie gedeelte bestaan hoofsaaklik uit geslagsregisters waarmee die hele voorgeskiedenis van die Jode opgesom word. Interessant genoeg begin die geslagslyste met Adam*. Dit is dus duidelik dat die geskiedenis van die Jode ingebed word in die geskiedenis van die mensdom. Daarom meen uitleggers dat Kronieke nie net ’n herskrywing van die geskiedenisboeke Samuel en Konings is nie, maar dat dit eintlik die hele Pentateug* met die ge­slagsregisters in hoofstuk 1–10 wil opsom. Die posisie van die Levitiese families word baie duidelik deur die geslagslyste beklemtoon. Daar word duidelik gemaak dat hulle kragtens hulle familie-oorsprong ’n legi­tieme deel van die priesterskap is. Hoofstuk 10 handel oor Saul*, en vorm ’n oorgang na die geskiedenis van Dawid* wat hierna volg.
  2. 1 Kron 11–29: Hierdie gedeelte word aan die regering van koning Dawid gewy. Dit is duidelik dat Dawid as ’n ideaalko­ning geag word. Nie net in die uitgebreidheid van die beskrywing is dit na te speur nie, maar ook in die inhoud. Wanneer Kronieke se beeld van Dawid met die beeld in Samuel en Konings vergelyk word, word dit duidelik dat die Kroniekskrywers doelbewus ’n positiewe beeld van hom wou voor­hou deur die donker dele van sy ge­skie­denis (bv die episode met Batseba*) weg te laat.
  3. 2 Kron 1–9: Die volgende gedeelte handel volledig oor koning Salomo*. Dit is eweneens duidelik dat Salomo as ’n belang­rike koning geag is. Die vertelling oor die tempelbou tydens sy regering funksioneer baie prominent.
  4. 2 Kron 10–36: Die geskiedenis van die verdeelde koninkryke Juda*4 en Israel*4 word in hierdie gedeelte vertel. ’n Beteke­nisvolle verskil met die beskrywing in die Koningsboeke kan egter opgemerk word. Die geskiedenis van hierdie tydperk word uit ’n suidelike perspektief vertel, dit wil sê: die koninkryk van Juda se koningshuise vorm die basis van die vertelling. Daar word wel na die konings van die noordelike ryk, Israel, verwys, maar altyd binne die konteks van die vertellings oor suidelike konings. Hoewel die beskrywing van die onderskeie Judese konings meestal ooreenstem met die beskrywings wat in die Koningsboeke gevind kan word, is daar tog ook merkbare verskille. Veral die beskrywings van Hiskia* en Josia* bevat heelwat veranderings. Dit is duidelik dat hierdie twee konings belangrik geag is. Hierdie gedeelte sluit af – anders as die Koningsboeke – met ’n vermelding van die proklamasie van Kores.

Teologiese temas: Dit blyk dat die wen­ding in die geskiedenis wat met die Persiese oorheersing gekom het, vir die Jode* onverwags was. Tydens die ballingskap was hulle toekomshoop baie sterk daarop gevestig dat ’n koning uit die geslag van Dawid sou opstaan om die koninkryk van Juda/Israel weer te vestig. Hulle het glad nie kon dink dat ’n vreemde heidenkoning uiteindelik die instrument sou wees waardeur hulle bevryding en herstel sou plaasvind nie. Vóór die ballingskap het daar ’n teologie hoogty gevier wat die identiteit van die Godsvolk baie sterk gekoppel het aan die koningshuis van Dawid. ’n Teologiese heroriëntering was dus nodig in die tydperk ná die ballingskap. Hierdie omstan­dig­hede het daarom ook die temas wat in die Kroniekboeke behandel word, sterk beïnvloed. Die volgende voorbeelde kan genoem word:

  1. Dit is duidelik dat die Kroniekboeke ’n universalistiese siening van God en hulle geskiedenis wil voorhou. Die boek begin met Adam, en sluit af met ’n proklamasie van die Persiese koning, Kores. In hierdie proklamasie word onder andere die volgende vermeld: “Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou” (2 Kron 36:23). Hierdeur word duidelik gemaak dat die Here God nie slegs jurisdiksie het oor Juda/Israel en hulle konings nie, maar ook oor die Persiese koning. Selfs die Persiese koning tree op in gehoorsaamheid aan hierdie God. Die redding wat uit die Dawidshuis verwag is, kom nou van ’n Persiese koning af wat God erken. (Die tweede gedeelte van die boek Jesaja* noem selfs vir Kores die Messias* – die gesalfde van die Here!) Kronieke maak dus duidelik dat die Jode ’n universele God dien.
  2. Die identiteit van God se volk ondergaan in hierdie tyd ’n drastiese aanpassing. Die Kroniekboeke kan gesien word as ’n poging om die geskiedenis te beskryf van­uit die hede van die Persiese tydperk, met die oog daarop om ’n nuwe identiteit onder God se volk te help skep. Voor die bal­lingskap is hulle identiteit as God se volk ten nouste gekoppel aan die bestaan van die tempel in Jerusalem en die Dawidiese koningshuis. Nou, in die Persiese tydperk, word hulle identiteit deur die Kroniek­boeke omvorm tot ’n gemeenskap wat gebou is op die tora*, die wet van die Here*. As tora-gemeenskap vind hulle bestaansreg binne die Persiese koninkryk.
  3. Die Kroniekboeke bied ook ’n nuwe perspektief op die eenheid van God se volk. Voor die ballingskap was die volk in twee geskeur met die koninkryke van Juda en Israel. Hoewel die geskiedenis in Kronieke uit ’n suidelike perspektief beskryf word (en die posisie van die tempel in Jerusalem daardeur beklemtoon word), word die noordelike bevolking nie uitgesluit as van God se volk sprake is nie. Die begrip “die hele Israel” kom telkens voor. Daarmee word uitgedruk dat die ware, hele Israel weer ’n herstel beteken van die verskeurde Godsvolk.
  4. Kronieke verteenwoordig ’n versoenende houding oor die priesterskap. Hoe­wel die Kroniekskrywers geen geleentheid verby laat gaan het om die belangrikheid van die Leviete te beklemtoon nie, word dit nooit gedoen ten koste van die ander deel van die priesterskap nie. Kronieke probeer daarmee om versoening te bewerkstellig binne die godsdienstige leierskap te midde van die veranderde sosio-politieke omstan­dighede.

Dit is duidelik dat die Kroniekboeke verskillende gehore in gedagte gehad het. Enersyds wil dit die teruggekeerde Joodse volk help om ’n nuwe identiteit te vorm te midde van die veranderde omstandighede. Tegelykertyd wil dit egter ook die gods­dienstige leierskap aanspreek. Waarskynlik kan ’n mens aanvaar dat dit ook ’n verskuilde boodskap vir die Persiese heersers ingehou het om steeds in gedagte te hou dat hulle die volk van die universele God is.

Hieruit is dit duidelik dat die Kroniek­boeke ’n besondere boodskap vir geloofsgemeenskappe in oorgangstye het. Hierdie boek help sulke gemeenskappe om hulle verlede nuut in oënskou te neem met die oog op ’n nuwe identiteit in nuwe omstan­dig­hede. Dit bied ’n nuwe basis van hoop vir die toekoms.

Vir verdere lees: LC Jonker 2003. “The Rhetorics of Finding a New Identity in a Multi-cultural and Multi-religious Society” in: Verbum et Ecclesia 24(2), 396-416. SL McKenzie 2004. 1–2 Chronicles (Abingdon Old Testament Commentaries). Nashville: Abingdon Press.

Sidebar