1 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK).

1 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK). Pau­lus* het hierdie brief* waarskynlik geskryf tydens die lente (net voor Pinkster*, en met die oog op sy reis na Korinte* om daar te oorwinter, 1 Kor 16:6) tussen 53-55 nC (Hand 18:1-2, 12-17) vanuit Efese* (1 Kor 16:8) aan die gemeentes* wat hy in Korinte/Korinthe ge­stig het. Paulus word met ’n unieke situasie gekonfronteer, aangesien Korinte ’n groot, welvarende en kosmopolitiese handelstad en een van die sentrums van Hellenistiese* kultuur was, en omdat sy werk klaarblyklik daarin geslaag het om hoogs gekultiveerde bekeerlinge na die gemeentes* aan te trek. Terwyl die gelowiges toegang tot die stad se materiële en geestelike rykdomme gehad het, het hulle ook benewens hulle onderlinge diversiteit te kampe gehad met vreemde invloede van buite as gevolg van reisigers wat die stad aangedoen het. Die stad se gees het aanleiding gegee tot die breek met tradisie en konvensie, eksperimentering met nuwe gedagtes, en opgewondenheid oor geestelike ervarings. Pau­lus se evangelie*-boodskap is beide in ter­me van Hellenistiese godsdienste (1 Kor 1:13-17; 15:29; 11:17-34) en ’n Joodse* etos (1 Kor 5:9-11; 6:9-10) verstaan. 1 Korintiërs is waarskynlik deel van ’n groter korpus van briewe wat Paulus aan hierdie gemeentes gerig het (vgl die “vorige brief”, 1 Kor 5:9, waarvan ander dele in 2 Korintiërs gevind kan word). 1 Korintiërs werp heelwat lig op die situasie in die vroeë Christe­like kerk*, sowel as Paulus se lewe en werk in die gemeentes, alhoewel die inligting wat oor die vals* leraars gegee word, nie hulle identiteit of teologiese oortuigings duidelik bepaal nie. Ten spyte van vele studies oor 1 Korintiërs, is daar nog steeds onduidelikheid oor die literêre genre, funksie en samestelling en oor hoe die brief binne die korrespondensie as ’n geheel funksioneer.

Kenmerke: Een van die belangrikste kenmerke van 1 Korintiërs is Paulus se teologiese verantwoording oor Griekse* kutuur- en godsdienswaardes. Hy skryf oor sake soos retoriek, wysheid* en kennis* en oor die belewenis van die Christelike geloof* as intellektuele verligting en inspirasie wat selfs ekstatiese belewenisse insluit, en is primêr daaroor begaan dat die Christelike aard van die nuwe lewe in Christus* behou moet word. Vryheid* word beskryf in terme van die Christelike gemeenskaps- en persoonlike lewe (1 Kor 6:12; 8:9; 9:19-23; 10:23–11:1), terwyl Paulus riglyne formuleer vir Christelike optrede te midde van die heersende politeïstiese (Kyk by: Politeïsme) en pluralistiese omgewing. ’n Tweede belangrike kenmerk van 1 Korintiërs is die styl waarmee Paulus sy teologie* bedryf het. In reaksie op beskuldigings dat 1 Korintiërs min of geen teologie, of hoogstens toe­ge­paste of praktiese teologie, bevat, illustreer die brief as onderdeel van ’n wyer reeks interaksies tussen Paulus en die gemeentes, sy deelnemende teologiese styl. Benewens gesagvolle lering en instruksies oor gepaste morele optrede, betrek Paulus die gelowi­ges in ’n teologiese debat wat trekke van die Sokratiese tradisie vertoon. Die gelowi­ges word gestimuleer om self ook teologies na te dink en antwoorde op hulle eie pro­bleme te help vind, veral ook omdat Chris­telike optrede op rasionele (rede-like) manier beskryf kan word, met ’n rasionaliteit wat deur die Gees* gelei is.

Sidebar