2 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK).

2 KORINTIËRS/KORINTHIëRS (BYBELBOEK). Hoe­wel die gemeente* in Korinte/Korinthe die produk van Paulus* se prediking* in die plaaslike sinagoge* was (Hand 18:1-11), word algemeen aanvaar dat die meerderheid van die gemeente bekeerlinge uit die heidense* wêreld* was. ’n Gedeelte van die gemeente het aan ’n Joodse kolonie in die hawestad behoort. Die brief* is waarskynlik tussen 55 en 56 nC geskryf.

Korinte was ’n hawestad met gepaard­gaande heterogene standaarde en gedrag. Daarom waarsku Paulus ook teen die ge­vaar dat hulle hulle unieke identiteit as tempel* van God kan prysgee deur met die heidene* te vermeng (6:14-18). Hy roep die gemeente op om finansiële ondersteuning vir die armes in Jerusalem* te gee (8–9).

2 Korintiërs is een van ten minste drie briewe wat Paulus aan dié gemeente ge­skryf het. Een van hierdie briewe het verlore gegaan. Ná sy eerste brief aan die Ko­rinte het daar ernstige spanning in die gemeente ontstaan oor Paulus se gesag* as apostel*. Iemand het ’n persoonlike aanval op Paulus gemaak (2:5-11). Daarna bring hy ’n pynlike besoek aan Korinte (2:1). Sy sg “tranebrief”, wat verlore gegaan het, was die gevolg van hierdie besoek (2:4; 7:8).

Nadat hy by Titus* gehoor het dat die ergste krisis verby is (7:6-16), skryf hy 2 Korintiërs 1–9, waarin hy met die gemeente praat. Hy antwoord op beskuldigings van traagheid en onopregtheid en dat hy nie geestelik genoeg is nie (2:17; 3:1-18; 4:2-6). Ongelukkig breek daar weer onenigheid uit. Sommige van hierdie teenstanders was Jode* (11:22). Paulus antwoord sy teenstanders direk in 2 Kor 10–13. Die duidelike toonverandering tussen 2 Kor 1–9 en 10–13 het tot die idee gelei dat 2 Korintiërs dalk ’n samevoeging van ’n paar briewe is.

Die verdediging van Paulus se apostel­skap* is een van die sentrale temas in die brief – indien nie dié sentrale onderlig­gende tema nie (2:14–7:16; 10:1–13:10). Pau­lus se eie verstaan van sy apostelskap is ’n venster waardeur die brief gelees kan word. Paulus het sy apostelskap verstaan as dat God hom as apostel* aangewys het. Dit het sy teenstanders nie aanvaar nie. Hoewel Paulus as ’n buitengewone leier in die kerk* bekend was (12:12), was hy fisiek swak (10:10). Sy teenstanders kon van mening gewees het dat sy fisieke swakheid juis illustreer dat hy nie ’n kragtige apostel is nie.

Die doel van die brief is duidelik: Paulus wil die vertroue in hom herstel en die ver­deeldheid heelmaak. In die proses gebruik hy verskillende beelde om die gemeente se eenheid* te benadruk. Die metafoor van ’n huishouding is een daarvan. Hy het die ge­sag van God ontvang om hierdie huishou­ding op te bou (12:19), nie af te breek nie. Hy plaas hierdie tema vóór en ná die verdediging van sy apostelskap (10:8; 13:10).

Binne hierdie huishouding is Paulus ’n dienaar* (3:3, 6-9; 4:1; 5:18; 6:3-4; 11:23). Sy gesag word egter ook bevestig deurdat hulle soos sy kinders in hierdie huishou­ding is (6:13; 12:14). Daarom moes hulle aan hom gehoorsaam wees (2:9; 10:6).

Sidebar