KRISISPASTORAAT

KRISISPASTORAAT. Die Grieks* vir krisis (krinein) verwys na uitsifting (kaf word van koring geskei). ’n Krisis is dus ’n radikale wending in die “normale” verloop van sake. Die verworwe hanteringsmeganis­mes/stra­te­gieë stort in duie. ’n Wanbalans tussen die moeilikheidsgraad van die probleem en die onmiddellike, persoonlike reserwes ont­staan (ongekontroleerde bekommernis).

Verskeie krisisse kan geïdentifiseer word: Ontwikkelingskrisisse; eksistensiële krisisse soos doodsangs, wanhoop, skuld; etiese en morele krisisse soos wat is reg/goed; verkeerd/boos; toevallige krisisse soos natuurrampe, siekte; spirituele krisisse, byvoorbeeld bekering, berou, skuldbelydenis, vertwyfeling.

Onderskei verskeie fases (sirkulêr, nie noodwendig liniêr nie): Snellerfaktor/aanloop. Skokfase: ontnugtering. Terugdeins: “Ek kan nie.” Saamskraap: energiebunde­ling: “Ek gaan nie lê nie” (terugveg). Ontnug­tering: “Ek kan nie meer nie; dis te veel vir my.” Kontroleverlies: Woede en gevoelens van verontregting. Put-ervaring: hulpeloos­heid, neerslagtigheid. Heraanpassing: Moed/hoop; sinoriëntasie. Rekonstruksie: sinvolle alternatiewe, doelwitformulering. Aksieprogram: bronidentifikasie en monitering.

Een van die bekendste intervensie-mo­delle is die ABC-metode (Stone): A= “achieve contact”; B= “boiling down to the problem”; C= “coping actively with the problem”.

Die groot pastorale vraagstuk is: Hoe is God teenwoordig in die krisis/Wat is sy wil? Genade voorsien nie alles nie, maar voorsien in alles. Geloof help om die waarom-vraag om te buig in die hoopvolle waartoe-vraag. Die Christelike hoop is en bly: die opstanding van Christus* en God se verbondstrou.

Vir verdere lees: DJ Louw 2005. Ratwerke van die menslike siel: Oor volwassenheid en lewensvaardighede. Stellenbosch: Sun Media. D Bagby 2002. Crisis Ministry. A Handbook. Macon: Smyth and Helwys Publications.

Sidebar