KORRELASIETEOLOGIE

KORRELASIETEOLOGIE. Paul Tillich* se teologiese bydrae word beskou as ’n ontvouing en verbreding van die Lutherse* beginsel van die regverdiging* deur die genade* van geloof* alleen. Die metodologiese manier waarop hy hierdie beginsel uit­werk, is by wyse van korrelasie. Hier­volgens was Tillich oortuig dat die bemiddelende weg tussen teologie* en kultuur* slegs onderneem kon word indien die korrelasie tussen die twee aangetoon kon word. Die relasie is soos die korrelasie tus­sen “vraag” en “antwoord” in ’n gesprek, soos “vorm” en “inhoud” in ’n kunswerk. Op hierdie manier verbind Tillich vrae met antwoorde, situasies met boodskappe, menslike bestaan en Goddelike openbaring. In sy eie woorde: “Die metode van korrelasie verduidelik die inhoud van die Christelike geloof deur eksistensiële vrae en teologiese antwoorde in wedersydse af­hank­lik­heid.” Twee basiese begrippe, nl simbole en menslike eksistensie, bepaal sy korrelasiemetode. Voorwerpe, persone en beelde is simbole wanneer hulle spontaan met betekenisse verbind word. Sulke simbole het ’n bemiddelende status tussen idees en dinge, en deel in die werklikheid waarna hulle verwys. Menslike eksistensie verstaan Tillich as ’n oop vraag, as eksistensiële soeke, wat wegwys van sigself na iets anders wat daaraan betekenis gee. Hierdie vraag is soos ’n leë simbool, omdat dit na betekenis heenwys, maar nie self die betekenis dra nie. Die leegheid word gevul wanneer dit in korrelasie gebring word met die religieuse simbool wat die betekenis dra waarna gesoek word. So bv kan die vraag na openbaring gestel word: Hoe kan ons met sekerheid enige menslik belangrike waarheid ken? Die religieuse simbool “Jesus as Logos” geld as korre­lerende antwoord op hierdie skeptiese vraag soos dit in moderne kultuur uitgedruk word as die “ultimate concern” van die mens.

Sidebar