KORSTEN, GERHARD (GÉ)

KORSTEN, GERHARD (GÉ) (1929–1999) is in Rotterdam, Nederland, gebore en het as sewejarige saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis. Hy studeer in Pretoria en in 1963 in Wenen onder Judith Hellwig. Ná sy terugkeer tree hy in talle operas, operettes en musiekblyspele op, ook as tenoor in Bach* se Matthäus-Passion. In 1965 betree hy die terrein van ligte musiek met die uitrei­king van sy eerste langspeler, Gé Korsten sing uit die hart. Dit is die begin van ’n suksesverhaal. In die volgende dekades vestig Korsten hom as Afrika se grootste platekunstenaar en palm talryke toekennings in. In 1985 word hy hoofdirekteur van KRUIK in Kaapstad, ’n pos wat hy tot 1989 beklee het. In 1988 het hy die Orde vir Voortreflike Diens (Klas Goud) van die staatspresident ontvang.  Korsten is op 29 Sep­tember 1999 aan selfdood oorlede. Hy was getroud met Elna Burger, dog­ter van ds AJV Burger*, en het vyf kinders gehad van wie Gerhard ’n internasionaal-bekende violis geword het.

Korsten was Suid-Afrika se gewildste en dalk ook grootste tenoor van die 20ste eeu. Hy het dikwels by kerklike byeenkomste op­ge­tree en geredelik sy geloof bely. Sy Afrikaanse weer­gawe van F Weatherley en S Adams se “Jerusalem” het klassiek geword.

 

Sidebar