KOSMOLOGIE EN KOSMOGONIE

KOSMOLOGIE EN KOSMOGONIE. ’n Kosmologie is ’n beskouing oor die kosmos* of die universum as ’n georganiseerde enti­teit. Kosmogonie is ’n weergawe van hoe hierdie georganiseerde en gestruktureerde entiteit ontstaan het. Dit word dikwels deur middel van verhale geïllustreer. In bespre­kings van die Bybelse gegewens hieroor, word hierdie twee terme meesal as wisselterme gebruik.

Die Bybel* het heelwat materiaal wat oor kosmologie handel. Daar is egter nê­rens ’n volledig uitgewerkte weergawe van ’n Bybelse kosmologie nie. Die verwysings lê verspreid regdeur die Ou* en Nuwe* Tes­ta­ment, met die meeste gegewens in die Ou Testament.

Standpunte oor die onderwerp is ook nie eenvormig nie en word beïnvloed deur interpreteerders se eie wêreld- en geloofsbeskouings. Aan die een uiterste is diegene wat ’n letterlike opvatting van die Skrif* hand­haaf en dus bloot die gegewens sistematiseer soos dit in die Bybel voorkom, om sodoende tot ’n samehangende be­skouing van die ontstaan en voorkoms van die kosmos te kom. In hierdie opvatting vorm die skeppingsweergawes in Gen 1–2 die basis. Hiervolgens het God die kosmos geskep uit niks volgens ’n goed geordende plan oor ’n tydperk van sewe dae. Hy het dit gedoen deur woorde wat skeppingskrag het. Die skeppingsproses bou op na die skepping* van die mens* en uiteindelik God wat rus op die sewende dag. Die res van die verwysings in die Bybel bou net voort op hierdie eerste skeppingsverslag.

’n Ander opvatting met variasies in detail hang saam met beskouings oor hoe Israel* se leefwêreld daar uitgesien het en hoe die Bybel tot stand gekom het. Hierdie siening vind waarskynlik vandag die meeste steun. Die basiese vertrekpunte is dat Israel nie in ’n lugleegte bestaan het nie, maar omring was deur ander volke in die Ou Nabye Ooste. Hierdie volke het ou gevestigde tradisies oor die kosmos en die ontstaan daarvan gehad en het Israel beïnvloed in die ontwikkeling van hulle eie opvattings. Verder word die ontstaan van die Bybel as ’n lang proses beskou wat oor tyd ontwikkel het. As gevolg hiervan is daar nie sprake van ’n eenvormige kosmologie nie, maar wel verskillende kosmologieë wat verskillende historiese kontekste en dus wêreld­beskouings weerspieël. Die weergawes oor die skepping moet ook nie letterlik opgevat word nie, maar as verhale wat geloofs­waarhede oor die skepping en Skepper wil uitbeeld.

Navorsing wat vergelykings tref tussen die verskillende volke in die Ou Nabye Ooste se opvattings oor die skepping, het gewys dat die meeste van hulle die een of ander weergawe van die ontstaan van die wêreld en die aard van die kosmos het. Hierdie weergawes het telkens getoon hoe die verskillende volke hulle kosmologieë in terme van hulle gode verstaan het. Israel was in dié verband geen uitsondering nie en het ook hulle opvatting oor die skepping en kosmos in terme van hulle God verstaan. Kosmologieë uit Egipte* en Babilonië* is voorbeelde hiervan. Aanvanklik is gereken dat bogenoemde die grootste invloed op Israel se skeppingsbeskouing uitgeoefen het, maar met die ontdekking van Kanaä­nitiese* geskrifte, het geblyk dat invloed uit dié oord sterker was. Die talle verwysings na die Baälgodsdiens in die Bybel, is ’n sterk aanduiding hiervan. Veral Psalms* lewer sterk getuienis in hierdie verband. Hoewel daar sprake kan wees van omge­wingsinvloed, het Israel hulle eie unieke interpretasie van die ontstaan en aard van die skepping gehad. Die mag en skeppingskrag van die God van Israel was sonder vergelyking en ononderhandelbaar.

Die Hebreeuse Bybel weerspieël verskillende kosmologieë. Dit is moeilik om ’n pre­siese kronologie te probeer vasstel van hoe die ontwikkeling sou plaasgevind het en heel­wat debat heers daaroor. Die gegewens in Gen 1 word beskou as ’n skeppingsverhaal uit moontlik die tyd van die Babilo­niese ballingskap*3 toe daar ’n groot behoefte bestaan het om die uniekheid van Israel se opvatting oor die skepping te beklemtoon te midde van die Babiloniese wêreld met sy gode. Die verhaal vertoon sterk pries­ter­like kenmerke, is baie presies gekonstru­eer en laat geen twyfel nie dat die God van Israel uittroon as die Skepper van alle dinge. Hoewel die samestelling van die verhaal in Gen 1 in die Babiloniese tyd gestel word, is die basisverhaal oor die skepping waarskynlik baie ouer. In Gen 2:4b en verder is daar ’n weergawe van ’n tweede skeppingsverhaal waarin die ontstaan van die mens in die middelpunt staan. Die voorstelling van die wêreld toon duidelik die heersende wêreldbekouing van daardie tyd en pas nie presies in by die meer gesofistikeerde wêreldbeelde van vandag nie.

Spore van ’n kosmologie kan ook in Psalms gevind word, bv in Ps 29; 68:22-23; 74:13-14; 89 en 104. Hierdie psalms gebruik beelde van ’n kosmiese stryd wat ook in die Ugaritiese* literatuur weerspieël word. Terminologie soos die diepsee, die seemonster, Leviatan, die slang en die groot donkerte (abys) word gebruik. Van hierdie terme kom ook in Jesaja (27:1; 51:9-11), Hab 3 en veral in die boek Job* voor.

’n Ander weergawe van die kosmologie wat vermelding verdien, is die wysheidstradisie in die Ou Testament. Hier speel die boeke van Job* en Spreuke* ’n belangrike rol. Anders as om die kosmologie te verstaan in terme van God se verlossingsplan van sy volk, lê die klem in die wysheidsliteratuur op die skepping self as die werk van God se hande. Dit wys op die sterk karakter van orde en die onderhouding van die skepping deur God. Die intrinsieke waarde van die skepping self word beklemtoon. ’n Wyse persoon sou iemand wees wat die vermoë het om in harmonie met God se skepping te leef. Hierdie aksentverskuiwing is veral vir ons tyd van groot belang en be­hoort verder uitgebou te word.

Die Nuwe Testament beklemtoon ook verskillende aspekte van ’n kosmologie, maar gee nie ’n volledige sistematiese weergawe nie. Die klem lê veral op die rol van Christus* as die kern van die skepping. Die volledigste weergawe is in Kol 1:15-20 wat beklemtoon dat Christus voor alles was en dat deur Hom alles tot stand gekom het. Die debat oor die kosmologie van die Bybel bly voortduur. (Kyk ook: Kosmos; Planete; Protologie; Skepping en: Joubert, Gideon.)

Vir verdere leeswerk: PJ van Dyk 2001. A Brief History of Creation. Pretoria: Unisa.

 

Sidebar