KOSMOS

KOSMOS beteken in Grieks* “orde”, “sierlikheid” – en vandaar ’n geordende stelsel van hemelliggame, en ook wêreld. Die begrip “wêreld” is egter onbekend in die Ou Testament*. Die terme wat daar gebruik word, is “hemel* en aarde*” (Gen 1:1) of “alles” (Ps 8:6; Jes 44: 24).

In die Nuwe Testament* beteken “kosmos” in 1 Pet 3:3 “skoonheid”, maar elders “wêreld”. “Kosmos” het ’n enigsins negatiewe betekenis omdat dit ’n sekulêre woord is, anders as aioon, wat verbind word met God. Die kosmos word gesien as vervreemd van God. Die “wêreld” het drie sfere: hemel, aarde en see (= onderwêreld), maar die Nuwe Testament het geen samehangende kosmologie (Kyk by: Kosmologie en kosmogonie) nie, omdat die Nuwe-Testamentiese skrywers idees uit hulle omgewing gebruik. Die verering van hemelmagte (Kyk by: Kragte) en engele* word afgewys (Kol 2:8-15).

Die kosmos is enersyds die mens* se woonplek, maar die mensheid self word ook kosmos genoem (2 Pet 2:5). Almal is skuldig voor God, maar omdat sy kinders volgens God se maatstawwe lewe (Joh 1:12-13; Kol 3:20), word hulle nie saam met die kosmos veroordeel nie (1 Kor 11:32). Wan­neer die kosmos verlos is, is dit die volle werklikheid van die koninkryk* van God, die komende aioon, die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Vir verdere lees: H Sasse 1978. “Kosmeo, kosmos, kosmios, kosmikos” in: GW Bro­miley (red), Theological Dictionary of the New Testament Vol III. Grand Rapids: Eerdmans.

Sidebar