KOTZÉ, JACOBUS CORNELIUS GI­DE­ON (KOLIE)

KOTZÉ, JACOBUS CORNELIUS GI­DE­ON (KOLIE) (1891–1979). ’n Krygs­ge­vangene belowe aan God dat, as Hy sy siek vrou en seun sou spaar, hy die seuntjie aan die Here sou teruggee. Die seuntjie was Kolie Kotzé wat eers as veertienjarige die plaasskool Granaatboschkolk en daarna Do­ringrivier, Niewoudtville, besoek het, en matriek aan die Hoër Jongenskool te Stellenbosch in 1921 behaal het. Hy voltooi sy teologiese studie ook op Stellenbosch, word in 1928 gelegitimeer en word daarna hulpprediker op Bredasdorp. Hy word volwaardige leraar op 25 Mei 1929 te Stanford. Vandaar is hy na Charl Cilliers en na Roodepoort in 1936. Later dien hy in die Transvaalse NG Kerk* as spesiale evangelisasie-prediker. Die Groote Kerk in Pretoria ondersteun hom terwyl hy in 1946 te Princeton in die VSA verder studeer. Die titel van sy doktorale tesis, The Divine Charge to the Christian in the Church, bevestig sy voorliefde vir evangelisasie*.

Hy word later sekretaris van evangelisa­sie in die Kaapse Kerk, aanvaar in 1955 ’n beroep na Woodstock en word later in dié jaar na die Teologiese Kweekskool* beroep. Kotzé se beroep na die Kweekskool was vir baie ’n verrassing, maar hy het hom bewys as ’n praktiese teoloog en leermeester soos min. Hy het ook ’n groot rol in die vestiging van Transwêreldradio (later Radiokansel*) in Suid-Afrika gespeel en was tot sy dood hulle erepresident. Aan die einde van 1969 het hy afgetree, waarna hy as hospitaalleraar in Kimberley diens gedoen het.

 

Sidebar