KRISTALLNACHT

KRISTALLNACHT verwys na die nag van 9-10 November 1938 toe Jode* en hulle eiendom deur Duitse Nazi’s (Kyk by: Nasionaal-Sosialisme*) aangeval is. Dit naam is afgelei van die glasskerwe wat dié nag in die strate rondgesaai gelê het. “Die Nag van die Glasskerwe” word ook die November-Pogroms genoem. Die Pogroms (Russies vir verwoesting of oproer) het onder aansporing en/of goedkeuring van die Duitse regering plaasgevind en was gerig op rasse- en geloofsminderhede. Dit het antisemitisme* onder leiding van Adolf Hitler* tot die uiterste gevoer.

Volgens beraming is daar destyds binne 48 uur sowat 1 000 sinagoges* afgebrand of beskadig. Joodse skole, hospitale, begraafplase en sowat 7 500 Joodse sakeonderne­mings is geplunder. Waardevolle besittings, soos kunswerke, is uit private wonings gebuit en minstens 90 Jode het gesterf. Na raming is sowat 30 000 Joodse mans tussen die ouderdom van 16 en 60 jaar deur die Schutzstaffel (SS) en die Gestapo (polisie) gearresteer wat gelei het tot die vergroting van die konsentrasiekampe by Buchen­wald, Dachau en Sachsenhausen. Die Jode moes hierbenewens die skade wat aangerig is met ’n kollektiewe “boete” van 1 miljard Reichsmark (destyds sowat $400 miljoen) betaal en self die rommel opruim.

Ná Kristallnacht het die Nazi-vervolging van die Jode selfs nog hewiger geword en hulle is onder meer verbied om na Duitse skole te gaan en sakeondernemings te besit. Die sg Kristallnacht was ’n laagtepunt in die toe reeds onomkeerbare stryd tussen twee godsdiensgroepe (“Christene” en Jode) wat deel was van die Tweede Wêreldoorlog* (1939–1945) waartydens sowat 55 miljoen mense dood is, waarvan 6 miljoen Jode in die “holocaust” (groot slagting; volksmoord).

Vir verdere lees: Alan Bullock 1962. Hitler: A Study in Tyranny. New York: Har­per & Row.

Sidebar