KROG, ANNA ELIZABETH (ANTJIE)

KROG, ANNA ELIZABETH (ANTJIE) (1952–) word beskou as een van die grootste digters in Afrikaans*. Sy debuteer in 1970 met Dogter van Jefta, en daarna volg etlike bundels. Lady Anne (1989), waarin Krog gestalte gee aan haar twyfel en vrae oor die blanke mens se voortbestaan in Afrika, wen die Hertzogprys. In Verweerskrif (2005) vloek sy in soveel woorde teen oud word. Tussen-in skryf sy prosawerke, soos Country of my skull (1998), ’n soms byna poëtiese relaas van die Waarheids-en-Versoenings­kom­mis­sie se doen en late.

Krog soek nie na woorde nie, en sy gebruik soms die blinkstes en soms die kru-stes. Dit, en haar politieke aktivisme in ’n stadium, het meegebring dat haar bydraes tot die Liedboek van die kerk (Ps 16 en 19) kerklik byna afgewys is. Haar beste digwerk met godsdienstige klanke is waarskynlik in Jerusalemgangers (1985) waar sy aandui hoe “die uitgediende naam ‘God’” misbruik word om ’n politieke ideaal te verwesenlik. Later word dié naam vervang met Christus s’n, met beklemtoning van die liefde, en uiteindelik sien die digter dit so dat die mens op enige plek – nie net in “Jerusalem” nie – die volmaakte toestand kan bereik, sonder om die skerm van godsdiens te gebruik.

In gesprek met George Claassen beantwoord sy die vraag wat sy nóú glo, soos volg: “Ek hou nie van die woord ongelowige nie. Want ek is gevul met geloof, maar ek is nie ’n Christen nie. Ek glo nie aan sonde of die hiernamaals of Christus nie. Ek glo nie aan God soos Hy vertel word deur die Bybel of in die kerk nie. Maar ek glo dat daar iets groters as ekself is. Die beeld waarmee ek dit miskien naastenby kan verduidelik, is dat elke mens aan die struktuur van dit wat groter as jyself is, drink soos ’n baba aan ’n bors. Ons voel die tepel tussen ons kake, dan sê ons: dis God. Ons voel die melk in ons mond en dan sê ons: dis Christus. En dan begin ons teologies die melk ontleed, die tepel bekyk; ons stry, ons verklaar, ons skryf belydenisse (…) Intussen is daar agter die tepel ’n hele bors met ’n ingewikkelde klierstelsel en daaragter die hele liggaam met sy eie lewe en brein en denke. Maar ons kyk met ons bababrein en ongekoördineerde oë na die tepel en sê: ghoe-ghoe-ghoe” (in: George Claassen en Frits Gaum [reds] 2012. God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. Kaapstad: Tafelberg. Dié gedagte het Krog ook verwoord in haar gedig “ongelowig is nie die regte woord nie”, 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau).

Vir verdere lees: JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaap­stad: Human en Rousseau.                  

 

Sidebar