KRUGER, STEPHANUS JOHANNES PAULUS (PAUL)

KRUGER, STEPHANUS JOHANNES PAULUS (PAUL) (1825–1904) is streng Calvinisties* opgevoed en het ’n voorliefde vir die Ou-Testamentiese* patriargale* instellings gehad. Hy het gevolg­lik meermale sy eie volk as verbondsvolk beskou wie se lotgevalle met dié van die vroeëre Israel* vergelyk kon word.

Ty­dens die Groot Trek het die Kru­gers hul­le in 1838 op Pot­chefstroom gevestig. Met Kruger se kom­mando-optredes teen swart stamme en vanweë sy rol in die op­stel van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se grond­wet in 1857, het hy toenemende bekendheid verwerf. Op kerklike vlak was hy op 11 Februarie 1859 medestigter van die Gereformeerde Kerke* (die sg Dopperkerk) by Rusten­burg, en hy het meermale tydens dienste as lekeprediker opgetree.

In die jare van Thomas Francois Burgers* se omstrede presidentskap van die ZAR (1871-1877) het Kruger hom dikwels aan die opposisiekant bevind, en hy bedank uiteindelik uit protes sy pos as kommandant-generaal en lid van die uit­voerende raad. Ook oor godsdienssake het die behoudende Calvinis, Kruger, ernstig verskil met die liberale Burgers. Met die vredesonderhandelings ná die Eerste Vryheidsoorlog het Kruger se leierskap weer na vore gekom en hy volg vir Burgers in 1877 as staatspresident op – ’n amp wat hy tot 1902 beklee het. Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1886 en die toestroming van goudsoekers van oorsee en plaaslik, het die ZAR se staatsadministrasie onder groot druk geplaas. Die uitlander-stemregvraagstuk het soortgelyke spanning meegebring. Die Jameson-inval van 1896 het Kruger se vrese vir ’n Britse militêre aanval bevestig, hoewel pres MT Steyn* deur onderhandelings met hom en Alfred Milner nog ter elfder ure probeer het om ’n skikking te bereik. Toe Kruger besef dat Brittanje die ZAR met troepe omsingel het, het hy op 11 Oktober 1899 ’n ultimatum gestel wat regstreeks tot die Anglo-Boereoorlog* gelei het. Uiteindelik sou dié oorlog die Boererepublieke hulle vryheid kos. Kruger het as vrywillige banneling sy laaste dae tydens die laaste fases van die oorlog in Clarens, Switserland, deurgebring en daar gesterf.

Paul Kruger se vaste geloof in God as Albeskikker, en sy praktiese lewenswysheid, het legendaries geword. Soos sy raad aan twee broers wat oor die verdeling van hulle grond gestry het: die een moes die verdeling doen, het hy aanbeveel, die ander een moes dan eerste kies watter deel hy wou hê … Die vraag sal egter altyd bly of dit inderdaad die enigste uitweg vir hom was om ’n onwenbare oorlog teen Groot Brittanje aan te knoop met uiteindelik verskriklike lewensverlies van sy klein volk. Maar Kruger het onwrikbaar geglo dat die reg aan sy en sy volk se kant is en dat God sou voorsien.

Sy oorskot is na Suid-Afrika gebring en het tydens ’n roudiens in die Groote Kerk, Kaapstad, voor die kansel gelê. Prof NJ Hofmeyr* het by dié geleentheid gepreek en ds AI Steytler het gebid vir die “volk, verlaten, verwoest … weldra om het geopend graf … van den geloofsheld, Paul Kruger.”

Hy is op 16 Desember 1904 in Pretoria begrawe in wat later as die “Helde-akker” bekend sou staan. Dit het ’n emosionele belewing onder sy volksgenote meegebring en sy stempel as Afrikaner*-volksheld bevestig.

Vir verdere lees: Anna M Louw 1968. Die groot gryse (roman). Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar