KRUIS, KRUISIGING

KRUIS, KRUISIGING. In antieke tye was kruisiging ’n bekende praktyk om op die gruwelikste moontlike manier veral slawe* tereg te stel. Reeds vroeg is dieselfde pale met geskerpte punte wat gebruik is om vestings mee te omhein en te beveilig, deur die liggame van oorwonne vyande gesteek en ingeplant om hulle te martel, te straf en tot spot en skande ten toon te stel. Die slagoffer is óf met sy hande aan die paal vasgemaak, óf die paal is eenvoudig deur sy borskas gedruk. Daar was ook nog ander, selfs gruweliker, variasies. Later het ’n dwarsbalk bygekom waaraan ’n persoon gehang of vasgespyker is. Daar was hoofsaaklik drie variasies: die crux decussata of St Andrew’s cross (X), die crux commissa of St Anthony’s cross (T) en die crux immissa of Latynse kruis (). Kruisiging het buite die stad geskied en die kruiseling moes self sy eie kruis dra tot by die punt van kruisiging. Kruisiging is eers finaal in die Romeinse Ryk* laat vaar tydens Konstantyn* se rege­ring in 315 nC.

In Paulus* se geskrifte speel Jesus* Chris­tus* se kruis so ’n belangrike rol dat Paulus se teologie* met reg ’n kruisteologie genoem word. In 1 Kor 15 kom Paulus tot die slotsom dat die twee pilare waarop die evangelie* rus, Christus se dood* en op­standing* is. Dit is die boustene van God se verlossingsplan en die absolute minimum waarsonder dit nie meer evangelie is nie. Deur sy “woord van die kruis” (1 Kor 1:18) herinner Paulus ons deurlopend daaraan dat die opgestane Christus niemand anders as die gekruisigde Christus is nie.

Wat die boodskap van die kruis so skerp maak, is nie net die manier waarop Chris­tus gesterf het nie, maar dat, deur die op­standing heen, die kerk* Christus steeds ken as die Gekruisigde. Die twee hoort by­me­kaar. Die woord van die kruis is die manifestasie van God se krag* (1 Kor 1:18), óók wanneer in menslike ervaring hierdie krag verberg word onder die masker van swakheid (2 Kor 4:10-11; 13:14).

Die roem in Christus se kruis lei tot ’n volgende vlak van kruisteologie, en dit is die kruisiging van die eie self (Gal 2:19, 20) – al is dit vir ander dwaasheid* (1 Kor 1:18-25). Dit word ook ondersteun deur die lied oor Christus se vernedering en gehoor­saamheid* tot die dood (Fil 2:6-11). Dit staan teenoor die Joods-Hellenistiese* verlossingsleer wat fokus op ekstatiese wys­heid, sowel as teenoor die Judaïsties-wettiese verlossingsleer. Die kruis van Christus alleen is Paulus se grond vir roem en vertroue (Gal 6:14). Daarom roem hy veel eerder in sy swakheid (2 Kor 12:9). Die eintlike betekenis wat Paulus aan Jesus se kruisdood gegee het, is deur Jesus self al voor sy kruisiging in sy lewe en woorde gedemonstreer. Jesus het op ’n heel unieke manier, deur werklik sy eie kruis te dra, getoon wat die instelling en gesindheid van sy volgelinge behoort te wees (Matt 10:38; Luk 14:27 – vgl Mark 10:29-30).

Die kruis is nie net simbool van Jesus se sterwe nie, dit is ook simbool van Jesus se lewe, van hóé Hy gelewe het. Kruisdood is ’n skandedood en daarom simbool van die vloek van die sonde* wat Jesus namens ons gedra het. Dit is ook simbool van Christus se oorwinning oor die Bose*, oor die magte*. Dit is simbool van ons vernedering saam met Christus, maar in ’n sin ook van ons oorwinning oor die bose, die magte, die wêreld* en onsself. Dit is ten slotte simbool van ’n lewensbeginsel vir Christene om uit te lewe.

Vir verdere lees: John Stott 2006 (Twentieth Anniversary Edition). The Cross of Christ. Nottingham: Inter-Varsity Press.

 

Sidebar