KRUISTOGTE

KRUISTOGTE is een van die aanvanklik goedbedoelde ondernemings in die kerk­geskiedenis wat in die naam van die evangelie* aangepak is, maar wat, jammer genoeg, baie suur geword het. Die sewe verskillende kruistogte wat oor 200 jaar gestrek het van ongeveer 1096 af tot 1291, het ’n lang aanloop, maar uiteindelik ook baie implikasies gehad. Dit het met gods­dienstige, politieke, kulturele, militêre en ekonomiese kwessies verband gehou. Die groot tragedie van die kruistogte was dat dit onder die vaandel van sg edel motiewe begin het om bepaalde gewyde plekke in Palestina* te beskerm, maar uiteindelik in roofsugtige en avon­tuur­lustige ondernemings ontaard het en oneindige skade aan die saak van die koninkryk* van Christus* berokken het – ook in die Moesliem*-wêreld wat met ’n erg vertekende beeld van die Christendom* te doen gekry het. Die kruistogte het destyds wel die goedkeuring van die Katolieke Kerk* weggedra – sommige van die togte in ’n groter mate as ander. Om vir Christus die kruis op te neem, was vir baie mense in daardie tyd sinoniem met deelname aan die kruistogbeweging. Dit het egter ontaard in veroweringstogte en in ’n Europese uitbreidingsdrang wat nie met Christenskap en sending*ywer te versoen is nie. Waar sommige Middeleeuse denkers dit beskryf het as ’n “heilige oorlog” en ander as “pelgrimstogte na heilige plekke”, het denkers uit die Renaissance*-tyd dit gesien as die uitbarsting van Middeleeuse fanatisme. Vandag is die oordeel baie negatief oor aggressiewe “kruistogte” om die evangelie* uit te dra en Christus te dien.

 

Sidebar